Local news

‘n Engel tussen die chaos

Vir ‘n oomblik het ek al gesien hoe word ek hier in die mis, in die veld vermoor.

As joernalis ry ek gereeld tussen Potchefstroom en Parys vir my werk. Soos meeste ander mense, ry ek met Paryslaan uit Potchefstroom uit, maar vandag was hierdie pragtige pad met sy draaie, koppies en groen so ver as wat die oog kan sien, oorspoel.

Nadat nog twee sluise gister by die Vaaldam oopgemaak is, is baie plekke, brûe en paaie oorspoel.

Omdat ek nog nie so lank in Potchefstroom bly nie, is ek nie vertroud met ander roetes na Parys nie. Ek bel my redakteur by die Potchefstroom Herald en hy verduidelik vlugtig vir my watter pad ek kan vat. Intussen bel ‘n vriend my en dié verduidelik ook net so vinnig na dieselfde pad. Laat ek net bysê, óf mans gee swak aanwysings, óf ek luister met ‘n halwe oor, maar daai pad Parys toe het ek nie gevind nie.

So is ek in my tjorrie, musiek lekker kliphard, koes-koes om al die gate in die pad te mis. Ek sien ‘n bord wat sê Vredefort en ek neem aan ek sal deur Vredefort ry om by Parys uit te kom. Toe nou nie.

Soos wat ek ry, sien ek hoe rol die mis in en die teerpad verander in ‘n grondpad. Vir ‘n oomblik het ek al gesien hoe word ek hier in die mis, in die veld vermoor. Dit is dan nou die perfekte toneel vir ‘n gruwelfliek.

Die sein is swak en die grondpaaie nog swakker. Google se padkaart-toep vat my in alle verskillende rigtings en elke pad wat ek vat, is net nóg ‘n grondpad, met nóg groter gate en meer water. Na ‘n tyd het ek geen meer idee waar ek is nie en die grondpad waarop ek is se laagwaterbrug is oorspoel.

Ek raadpleeg my redaktrise by Parys Gazette en sy spring vinnig in aksie om ‘n oplossing te soek.

‘n Paar minute later ontvang ek ’n oproep van Juan Greeff wat in die Vredefort distrik boer.

Hy is so vriendelik en behulpsaam. Hy het my ligging gekry en baie geduldig aan my verduidelik hoe ek nie net weer terug op die teerpad kan kom nie, maar hoe ek in Parys kan kom.

Vinnig-vinnig is ek weer op pad en kort voor lank stop ek in Parys, sonder enige probleme. Daar is definitief nog engele wat bereid is om mens in ‘n krisis te help.

Baie dankie Juan!

Die pad tussen Potchefstroom en Parys wat oorspoel is.
Die mis wat ingerol het, voor die pad grondpad geword het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button