Gimmies herdoop rugby-velde voor Classic Clash
Gimmies herdoop rugbyvelde ter ere van Springboklegende Piet Malan voor Classic Clash teen Volkies.
Gimmies het kort voordie naweek se Classic Clash teen Volkies die rugbyvelde op die Mooivallei-sportgronde herdoop.
Die A-veld staan van nou af as Piet Malan bekend. Malan is ‘n Oud-Gimmie en voormalige Springbok, Malan was in sy matriekjaar die kaptein van die skool se eerste rugbyspan en in 1941 ook die kaptein van die PUK se eerste rugbyspan.
In 1949 word hy ‘n Springbok en speel flank in die laaste toets teen die All Blacks. Hy rig ‘n versoek aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad dat ‘n toernooi vir hoërskole begin moet word en so kom die Cravenweek-toernooi tot stand. Hy aanvaar in 1965 ‘n pos as Direkteur van die Sportinstituut aan die PU vir CHO waar hy baanbrekerswerk doen. Piet Malan was Potchefstroom Gimnasium se eerste Springbok.

Malan se kleinseun, Ernst Joubert, het die geleentheid bygewoon.
Die B-veld staan nou as Die Anker bekend. Die anker is deel van die skool se wapen en “Geanker in geloof” verwoord die skool se Christelike lewensbeskouing wat die kern van Gimmies se opvoeding vorm.
Die eerste span rugbywedstryd tussen die twee skole skop om 14:00 op Piet Malan af.



