100 Mooi jare vir Trix
Sy het verskeie plae oorleef en ongelooflike goed in haar 100 jaar op aarde beleef.
Beatrix Fock (Trix) het op 1 Junie haar 100ste verjaarsdag gevier. Familie en vriende het almal in die saal by Samuel Broadbent ouetehuis bymekaar gekom om Trix se verjaarsdag en lewe te vier.
Nogsteeds vlymskerp op haar ouderdom, loop sy nie met ‘n kierrie of loopraam in sig nie.
Trix was 25 jaar getroud, het vier kinders, drie kleinkinders en het al verskeie plae beleef.
“Ek het 1933 se groot droogte beleef, die springkaanplaag, rysmierplaag en ook die Kommandowurmplaag,” vertel sy.
Sy het op ‘n plaas op Clocolan grootgeword. Haar pa was ‘n Kersieboer.
“Ons het drie groot boorde gehad, elk met verskillende kersies,” gaan Trix voort.
Sy vertel haar geheim om die ryp ouderdom van 100 te bereik het, is deur te stap.
“Mens moenie stil sit nie. Alles wat stil sit of stil staan, gaan dood of breek. Mens moet ook jou brein gebruik. Ek vul blokkiesraaisels in, beplan en brei. Ek glo nie mens moet langer as twee ure op ‘n stoel stil sit nie.”
Trix, wat vir dekades as tikster gewerk het, vertel sy het haar gehoor so bietjie verloor, dra bril en het valstande, maar verder is sy gesond en gelukkig.



