Inwoners rou oor Potchefstroom se mamma
Lizette het haar stryd met kanker op 7 Julie verloor.
Lizette van der Westhuizen was bekend as Potchefstroom se mamma. Die hele dorp is in rou gedompel, want Lizette se lewe en die manier hoe sy ander mense hanteer het, het boekdele oor haar lewe gespreek.
Gebore in Krugersdorp, het Lizette as kind na Potchefstroom verhuis, waar sy die laaste 50 jaar van haar lewe spandeer het. Sy was vir 29 jaar na haar man se afsterwe ‘n weduwee.
Lizette was die boekhouer van Inni Bos lodge, maar het in haar laaste jare as ontvangsdame gewerk. Sy is met blaaskanker gediagnoseer, wat genoodsaak het dat haar blaas in Februarie verwyder is. Sy het daarna rugpyn begin ervaar en was vir ‘n maand in die hospitaal opgeneem.
Haar laaste wens was om by die huis te wees. Haar enigste seun, Xander, het gereël dat ‘n versorger deur die dag na sy ma kyk en hy het haar self in die aand versorg. Lizette het haar stryd met kanker op 7 Julie verloor.
Xander beskryf sy ma as kwaai, maar tog saggeaard.
“Sy was ‘n dinamiese vrou. Sy was ‘n go-getter wat nooit stil gesit nie. Sy het altyd raad vir almal gehad en na almal se behoeftes omgesien, Sy het ‘n omgee-hart vir almal gehad.”
Lizette se roudiens word op 18 Julie om 11:00 vanuit NG Kerk Oos gehou.



