Pa pleit vir hulp sodat seun noodoperasie kan kry
Keean het op slegs 11 maande oud 'n beroerte gehad.
Keean Claase is gebore met TOF (Tetralogie van Fallot), wat beteken dat hy met ‘n gat in sy hart gebore is. Op 11 maande oud, in die intensiewe sorgeenheid, het hy as gevolg van Covid en bocavirus ‘n beroerte gehad. ‘n Klein bloedklont het deur sy hart in sy brein gegaan wat die beroerte veroorsaak het.
Sy pa, Cornelius Francois Claase, sê Keean was destyds onder verdowing en hulle het eers drie dae later uitgevind dat hy ‘n beroerte gehad het.
“Dit was verpletterende nuus. Hy is vir die beroerte behandel en in dieselfde jaar moes hy sy oophartoperasie ondergaan. Sy herstel was lank en moeilik en vol uitdagings. Hy moes fisioterapie en arbeidsterapie ondergaan.”
Keean is nou vier jaar oud en tydens sy laaste ondersoek het die dokters opgetel dat daar ‘n probleem met sy regterventrikel (hartkamer) is en dat hulle moet opereer en ‘n kunsmatige hartklep moet insit om te keer dat die regterventrikel verder vergroot.
Met al die mediese koste wat steeds van die laaste operasie uitstaande is, sal die nuwe bykomende koste vir die nuwe operasie finansieel verwoestend vir die gesin wees.
“Keean sal vir minstens drie tot vier weke in die hospitaal wees. In daardie tyd sal ons verblyf ook moet kry naby Sunninghillhospitaal in Sandton om by hom te kan wees. Ek het met die laaste toetse in die kar geslaap en my vrou by hom in die kindersaal,” vertel Cornelius.
Cornelius het ‘n gestremdheid en ontvang slegs ongeskiktheidspensioen wat vir Keean se hospitaalplan betaal. Dit dek ongelukkig nie al die mediese kostes nie. Die operasie moet so gou as moontlik gedoen word.
“Vriende, familie en goedhartige mense, ek het julle hulp nodig, elke skenking, groot of klein, sal Keean help om die beste geleenthede te hê om die hulp en mediese prosedures te kry wat hy so dringend nodig het.”
Indien jy ‘n donasie wil maak om die Claase gesin te help, kan jy vir Cornelius by 071 155 9691 skakel of op hulle Back-aBuddy skenk by: https://www.backabuddy.co.za/campaign/keean-claase
Jy kan ook Keean se reis op die Facebook-groep God se wonderwerkie volg.



