Ses verwoestende veldbrande teister Potchefstroom
Ses brande het in slegs een naweek in die Potchefstroom-area verwoesting gesaai.
Ongeveer ses veldbrande het die gebied rondom Potchefstroom in die gesig gestaar oor die naweek.
Dr. Kobus Roux, voorsitter van Potchefstroom Brand Beskerming Vereniging, sê die Potchefstroom Brand Beskerming Vereniging in samewerking met JB Marks brandweer, MDS Fire en SANW het sedert Saterdag, 9 Augustus, ses brande hanteer.
“Die brande is begin deur doelbewuste brand stigting en/of nalatigheid,” vertel Dr. Roux.
“Die grootste het Maandag Suid van die dorp begin. Die presiese oorsprong is nog nie bekend nie. Die grootste deel van die brand was in die Landbou kollege se grond.”
Die Potchefstroom BBV se hulp is ingeroep vir lugsteun en grond spanne.
‘‘n Huey helikopter van Working on Fire is ontplooi en ʼn Cessna vliegtuig asook grond spanne. Die helikopter het 63 “Bambi buckets” water gegooi teen 1000lit elk,” gaan hy voort.
Dr. Roux sê die brand is omstreeks teen 20:00 onder beheer gebring.
“Dit het egter weer Dinsdagoggend opgevlam, waar grondspanne weer ontplooi is. Daar het verskeie wildsbokke en klein wild dood gebrand. Ons dra tot dusver geen kennis van ander diere of strukture wat dood of vernietig is nie. Die dienste wat gehelp het asook PBBV lede het baie skade aan hulle voertuie as gevolg van klippe, hitte ens opgedoen.”
Wynand Pretorius van MDS Fire sê hulle span, tesame met die brandweer en ander nooddienste, het Maandagaand tot omstreeks 21:00 die brand bestry.
“Die brand het egter weer Dinsdagoggend omstreeks 10:00 opgevlam en ons kon dit eers rondom 15:00 Dinsdagmiddag onder beheer kry,” verduidelik hy.
Wynand vertel hy het eers net met sy bakkie uitgery om te gaan kyk wat die situasie is, maar toe hy sien hoe verwoestend die brand is, het hy en sy span besluit om in te spring.
“Daar is onsekerheid oor hoe die brand ontstaan het, maar die sterk wind het dit aangehelp. Ek is glad nie seker hoeveel hektaar het afgebrand nie, maar die brandlyn wat ons geblus het, was 42.29km lank.”
Die Working on Fire-helikopter is op 11 Augustus na die toneel ontplooi om te help om die vuur te blus. Ten spyte van alle pogings het die brand weer begin. Verskeie noodspanne was op die toneel.
Daar het ook op 12 Augustus ‘n brand in die Mooibank omgewing ontstaan wat suksesvol onder bedwang gebring is.
“Alhoewel die PBBV verbind is om die totale gemeenskap by te staan, moet ons lede wat aan ons behoort voorkeur kry tydens enige insident. So ook met MDS Fire. Die totale oppervlak wat afgebrand het staan op etlik duisende hektaar. Ons verwag erge winde vanaf eerskomende Vrydag en die res van volgende week.”



