Local news

Tweede Vat Verniet Tafel ‘n reuse sukses

Lottering bedank alle besighede en individue wat betrokke was, met ’n spesiale woord van dank aan Mooirivier Beskerming.

Die tweede Vat Verniet Tafel is op 16 Augustus gehou en was ’n dag vol hoop en dankbaarheid. Reeds van 09:00 het mense onder die bome gewag vir die tafel wat eers om 17:00 oopgemaak het. Teen daardie tyd het sowat 250–300 mense in die ry gestaan. Altesaam 46 vrywilligers het hul Saterdag afgestaan om die dag moontlik te maak.

“Dit het nie net oor kos en klere gegaan nie, maar oor mense en verhoudings,” vertel koördineerder Angelique Lottering.

’n Vrywilliger het dit só opgesom: “My oë het oopgegaan; ek het vandag besef hoe dankbaar ek eintlik kan wees.”

Lottering sê dit was besonders om te sien hoe die vrywilligers se kinders saam met dié in die ry gespeel het: “Vir hulle was besittings nie belangrik nie, hulle het net maatjies geword.”

Sy onthou ook ’n dame wat albei tafels bygewoon het: “Sy het my selfs gevra of sy saam my kerk toe kan gaan. Dit wys hoe kosbaar ’n vriendelike gesig en luisterende oor kan wees.”

Selfs die weer het saamgespeel. Voor die ete begin het, het ’n reënboog oor die terrein verskyn.

“Dit was vir my ’n teken van God se teenwoordigheid en seën,” sê Lottering.

Die dag het ook spesiale oomblikke ingesluit; haweloses se voete is gewas, Bybels is uitgedeel en ’n student het sy dankbaarheid uitgespreek: “Ek het niks gehad om te eet nie en was bekommerd oor hoe ek die maand sou oorleef. Julle het my regtig gehelp.”

Lottering bedank alle besighede en individue wat betrokke was, met ’n spesiale woord van dank aan Mooirivier Beskerming vir hul terrein, bydraes en deurlopende ondersteuning.

Die volgende Vat Verniet Tafel vind plaas op 25 Oktober. Die projek sal ook by vanjaar se Aardklop ’n bewusmakingsstalletjie hê. Vir enige navrae of om betrokke te raak kontak Angelique Lottering – 067 080 2757.

Kyk na die fotos hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button