Veldbrande vlam weer op
Dit blyk of sommige van die brande opsetlik of as gevolg van nalatigheid ontstaan het.
Velbrande het vanaf 20 Augustus weer in die Potchefstroom-area uitgebreek en het verskeie nooddienste, insluitend die Potchefstroom Brandbeskerming Vereniging (PBBV), MDS Fire, die plaaslike brandweer en die SANW, tot 25 Augustus op hul tone gehou.
Op 19 Augustus het ‘n brand in die vroeë oggendure by Oriental Plaza in Potchefstroom uitgebreek, wat twee winkels en vier voertuie vernietig het.

Op 20 Augustus het ‘n veldbrand agter Canal Crossing en die Gholfbaan uitgebreek, alle owerhede was teenwoordig om die situasie te hanteer.

Op 22 Augustus het ‘n veldbrand langs die N12 by Stilfontein uitgebreek. Plaaslike boere en buurtwaglede moes perde ontruim. Al die perde kon na veiligheid gebring word.

Op dieselfde dag het twee ander brande op die Viljoenskroon- en Paryspad uitgebreek. PBBV, die plaaslike brandweer, MDS Fire en die SANW was op die toneel en kon die brande beheer en later blus.

Op 23 Augustus het ‘n veldbrand naby 4de Laan en Welgevondenstraat in die Haaskraal-/Harpington-area uitgebreek.

Op 25 Augustus het ‘n brand naby Trompie, Potchefstroom uitgebreek, en weer was alle owerhede teenwoordig.
Dr. Kobus Roux, voorsitter van die PBBV, het in ‘n vorige onderhoud gesê dat dit blyk of sommige van die brande opsetlik of as gevolg van nalatigheid ontstaan.
Inwoners word gemaan om nie sigaretstompies weg te gooi nie, kampvure en die verbranding van asgate te vermy, en om nie enige ander vorm van oop vuur of masjinerie wat vonke kan veroorsaak in droë velde te gebruik nie.
Potchefstroom is sedert begin Augustus onder ‘n brandverbod en dit bly van krag tot verdere kennisgewing.



