Witrand onder skoot oor nog ernstige klagtes
Families van pasiënte by Witrand in Potchefstroom het ernstige kommer uitgespreek ná sterftes en klagtes van verkragting en nalatigheid.
Na die onlangse dood van ‘n pasiënt van Witrand het die Herald verskeie oproepe ontvang van gesinne wat bekommerd is oor die welstand van hulle familie lede wat ook in Witrand is.
Die dood van Quinton du Plessis vroeër vanjaar by die hospitaal word tans deur die provinsiale departement van gesondheid ondersoek. Die verslag van die ondersoek is glo reeds ingedien en die LUR is besig om dit te bestudeer.
Familie eis antwoorde ná dood by Witrand
Terwyl die ondersoek aan die gang was, het daar steeds ernstige bewerings van onder andere verkragting, aanranding en nalatigheid teen die hospitaal oor die Herald se tafel gekom.
Noeleen de Bruin se outistiese seun, Riaan Jansen van Vuuren was van 2022 tot sy dood in Maart vanjaar, ‘n inwoner van Witrand.
“Die laaste keer wat hy by die huis was, was in Februarie sy gesig was geswel en sy oë was baie rooi. Die hospitaal kon nie regtig antwoorde gee nie. Volgens een van die verpleegsters was dit die gevolg van pasiënte buite op die warm sement gelê het,” vertel de Bruin.
Volgens haar op die dag van Riaan se dood het hy nie lekker gevoel nie, maar niemand by die hospitaal het haar in kennis gestel nie.

“Ons het later eers gehoor dat hulle hom gestabiliseer het nadat hy die oggend begin naar word het. Hy het geslaap en na middagete het hy weer begin naar word. Hulle het soos ek verstaan te laat agter gekom dat hy in sy slaap gelê en braak het. Nadat hulle dit agter gekom het, het hulle hom na die hospitaal se versogingseenheid toe geneem. Dit het steeds nie beter gegaan nie, waarna hy Potch hospitaal toe geneem is. Die dokters kon daarin slaag om sy hart weer aan die gang te kry. Maar hy is later die aand oorlede. Soos ek verstaan was daar braaksel in sy longe gewees. Die dokters by die hospitaal het verduidelik dat hulle hom net op sy, sy moes draai, maar ek weet nie of hulle dit te laat agter gekom het nie,” het ‘n emosionele de Bruin aan die Herald verduidelik.
Sy vermoed dat hy dalk onder die invloed van sterk medikasie was en daarom het hy nie wakker geword toe hy begin naar word het nie.
In ‘n ander geval het Elizabeth Sedumeni, ‘n klag by die hospitaal ingedien nadat sy kneusplekke aan haar sussie, Motshegwa Motsamai se lyf gesien het. Volgens Sedumeni het dit gelyk na ‘n kneusplek waar haar sussie geknyp is. In ‘n vergadering met die hospitaal is Sedumeni ingelig dat die hospitaal se ondersoek geen nalatigheid gevind nie. Die personeel van die saal is almal vir verdere opleiding gestuur.

Motshegwa Motsamai, is in Mei aan vermoedelik ‘n hartaanval oorlede.
‘n Vrou wie in die buiteland woon, se broer is ‘n inwoner van die hospitaal. Sy het met die Herald op voorwaarde van anonimiteit gepraat. Volgens haar is, haar broer angerand. Sy tande is glo al uitgeslaan en sy kakebeen gebreek.
“Ons het die hospitaal genader oor die voorvalle maar hulle beweer dat hy dit aan homself gedoen het,” vertel die vrou.
Die polisie is tans ook besig met ‘n verkragtingsondersoek na die dood op Quinton du Plessis. Daar word vermoed dat hy voor sy dood verkrag is.
‘n Ma wie se 26-jarige seun steeds ‘n inwoner van Witrand is, beweer haar seun is ook by die hospitaal verkrag. Die ma, vertel dat sy daagliks vir haar seun se lewe vrees.
“Hy het as baba breinskade opgedoen en het daaglikse medikasie nodig. Dit het ‘n ernstige newe-effek van aggressie. Daarom is hy destyds na Witrand verwys,” het sy vertel.
Volgens haar is hy drie jaar gelede deur ‘n personeellid verkrag. Die voorval is by die hospitaal aangemeld waarna sy gekontak is. Volgens haar sou die hospitaal die saak by die polisie aanmeld.
“Ek wag nog vir ‘n saaknommer, en die personeellid werk steeds by die hospitaal. My seun kry nogsteeds nagmerries van daardie aand,” het die ma vertel.
Die Herald het navraag aan die polisie gerig oor misdade wat tussen 2018 en 2024 by Witrand plaasgevind het.
Volgens Kolonel Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, is ses klagtes oor hierdie tydperk by Witrand aangemeld. Een klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, waar ‘n pasiënt die slagoffer was. Een saak van aanranding gewoon, waar ‘n pasiënt ‘n verdagte is. Twee sake van verkragting in 2020 en 2022 onderskeidelik. In albei die voorvalle het ‘n pasiënt glo ‘n ander patient verkrag het. Sowel as ‘n klag van seksuele aanranding waar ‘n pasiënt die slagoffer en ‘n ander pasiënt die verdagte is. ‘n Saak van diefstal is ook in die tydperk aangemeld. Daar is nie sake by die polisie in die tydperk aangemeld waar ‘n personeellid ‘n verdagte is nie.
In 2023 het die Herald berig dat werknemers by Witrand oor die swak toestande kla, in Mei vanjaar het werknemers weer oor die toestande by Witrand gekla.
Die Herald het met ‘n werknemer gepraat wat tussen 2018 en 2023 by die hospitaal gewerk het. Volgens haar is daar personeel wat regtig omgee vir die mense in hulle sorg, maar dat daar ‘n ernstige te kort aan goeie personeel is.
“Daar is pesoneel wat altyd slegte houdings gehad het as jy iets vra of nodig het. Daar is baie slegte toesig oor die pasiënte. Hulle sal hulle soms in die binnehof toe maak en gaan tee drink, dan baklei die pasiënte en maak mekaar seer. Daar is regtig mense met goeie harte maar ons almal het stelselmatig bedank omdat ons nie kon uithou. Waag ek iets gesê het of probeer verander het was ek geviktimiseer en op gepik. As ek uit my sak vir die pasiënte serpies, handskoene en kouse gekoop het dan steel die personeel dit. Ek het hulle in die dorp met dit sien rondloop,” het sy verduidelik.
Concerns over Witrand conditions not new
Die Herald het die department van gesondheid met die nuutste bewerings gekonfronteer. Die Herald wou weet, wat doen die department om voorvalle soos deur die families beskryf te voorkom, ook of pasiënte 24 uur gemonitor word.
Volgens Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die Noordwes departement van gesondheid, sluit die omvang van die ondersoek na die dood van Quinton du Plessis ook sistemiese kwessies in, wat na sulke voorvalle kan lei en hoe om die voorvalle te voorkom.
“Na die wete van die Departement het die hospitaal al die families van die genoemde gevalle betrek, families is ingelig oor wat gebeur het, berading ontvang en die sake is sedertdien gesluit. Indien die polisie egter steeds hierdie sake ondersoek, sal die departement met hul ondersoeke saamwerk. Pasiënte word deur verpleegsters wat tussen skofte afwissel gemonitor. Na die departement se wete is alle skofte bygewoon,” het Lekgethwane gese.
Die verslag oor Quinton se dood is steeds nie vrygestel nie.
DA eis provinsiale ingryping by Witrand



