Man in hof vir R4.5 miljoen se onwettige sigarette
Die polisie is ontbied nadat verkeersbeamptes 'n oorlaaide vragmotor by 'n weegbrug afgetrek het.
Mthobisi Mkhatswa (36) is Woensdag, 27 Augustus by ‘n weegbrug in Ventersdorp in hegtenis geneem nadat hy met 350 bokse onwettige Chief- en Sahawi-sigarette betrap is.
Die geraamde waarde van die sigarette beloop R4,5 miljoen.
Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê verkeersbeamptes by die weegbrug, het bewus geword dat die vragmotor oorlaai was, die vrag nagegaan en gevind dat dit sigarette was.
“Die polisie is toe na die toneel ontbied, en die vragmotorbestuurder is in hegtenis geneem vir die besit van onwettige sigarette, en beide die vragmotor en die onwettige sigarette is op beslag geneem.”
Mkhatswa sal na verwagting op 4 September ‘n tweede hofverskyning maak vir borgtogaansoek, na sy eerste hofverskyning Vrydag,29 Augustus in die Ventersdorp-landdroshof.




