20 Jaar vir man wat hom as prokureur voordoen
Sommige vonnisse sal gelyktydig uitgedien word, wat lei tot 'n effektiewe gevangenisstraf van 20 jaar.
Kagiso Josias Selomane (45) is onlangs tot 20 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Dit nadat hy homself as ‘n prokureur voorgedoen het.
Sivenathi Gunya, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnisoplegging nadat die beskuldigde aan nege aanklagte van bedrog skuldig bevind is.
“Ondersoeke het aan die lig gebring dat Selomane tussen 2011 en 2015 homself as ‘n regspraktisyn in howe regoor die Noordwes en Johannesburg voorgegee het. Hy het slagoffers mislei om te glo dat hy ‘n gekwalifiseerde prokureur was wat hulle in egskeidings- en arbeidsake kon verteenwoordig, en het selfs voorgegee dat hy ‘n eksekuteur van ‘n groot bank was.”
Gunya gaan voort om te sê Selomane se modus operandi was om voorafbetalings te eis vir regsdienste wat hy nooit gelewer het nie.
“In sommige gevalle het hy kliënte mislei om in leë hofsale te sit en beweer dat hul sake uitgestel is, terwyl daar in werklikheid geen verrigtinge geskeduleer is nie. Oor die vier jaar het Selomane meer as R1 miljoen van niksvermoedende slagoffers afgetaak.”
Hy is op 20 Oktober 2015 in hegtenis geneem nadat sommige slagoffers hom by die polisie aangemeld het. Alhoewel hy aanvanklik slegs op vier aanklagte van bedrog skuldig gepleit het, het staatsadvokaat Rodger Mareume aangevoer dat sy skulderkenning nie eg was nie, en daarop gewys dat hy geen berou getoon het nie en versuim het om die slagoffers terug te betaal.
In die oplegging van die vonnis het landdros Samuel Mabogo beklemtoon dat die misdade vooraf beplan en oor etlike jare uitgevoer is, en opgemerk dat Selomane vorige veroordelings vir bedrog gehad het wat terugdateer tot 2017. Die hof het die volgende vonnisse opgelê: Aanklag 1: 12 jaar gevangenisstraf, aanklag 2: 10 jaar gevangenisstraf, aanklag 3: 10 jaar gevangenisstraf, aanklag 4: 4 jaar gevangenisstraf, aanklag 5: 3 jaar gevangenisstraf, aanklag 6: 4 jaar gevangenisstraf, aanklag 7: 3 jaar gevangenisstraf, aanklag 8: 3 jaar gevangenisstraf en Aanklag 9: 5 jaar gevangenisstraf. Ingevolge Artikel 280 van Wet 51 van 1977, sal sommige vonnisse gelyktydig uitgedien word, wat lei tot ‘n effektiewe gevangenisstraf van 20 jaar. Selomane is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.



