Local news

200 ton vullis maandeliks op Bult verwyder

Werner gaan voort om te sê daar is maniere hoe om kosafval in vloeibare kunsmis te herwin.

Om en by 200 ton vullis word per maand in Cachet Park op die Bult verwyder. Ongeveer 140 ton daarvan word herwin en die res beland op die munisipale vullishoop.

Werner van der Merwe van Deswalner Recycling vertel hy het in 2019 begin om die vullis van Cachet Park te verwyder nadat hy deur Professor Fika Janse van Rensburg van die Noordwes-Universiteit genader is.

“Ek is in 2019 genader nadat ek altyd net herwinning gedoen het. Ek het toe begin om die vullis op die Bult te verwyder. Die doel was om herwinning in Cachet Park Verbeteringsdistrik (CID) te bevorder. Ons is die enigste herwinningsmaatskappy in die Noordwes wat ‘n aanleg het om vullis te sorteer. Ons het in 2019 ‘n klein een gebou en daarna, in 2022, ‘n groter een.”

Werner verduidelik dat die vullis van die Bult af vervoer word na hul aanleg waar dit dan sorteer word.

“Dit is om en by 12-14 ton wat daagliks weggery word. Ons het verskeie vullistrokke wat op verskeie dae die vullis optel. Ons kry baie kosafval en dan ook polysterene bakkies. Die bakkies is nie herwinbaar nie. Die vullis neem toe soos wat die universiteit groter raak en soos wat die generasies verander.”

Werner gaan voort om te sê daar is maniere hoe om kosafval in vloeibare kunsmis te herwin. Hy het self so stelsel by sy huis waar hy dit toets.

“Ek het die laaste vyf jaar spandeer om navorsing te doen oor wat ‘n mens met die oorblywende vullis kan doen, sodat mens dit ook kan herwin.”

Hy werk tans aan ‘n nuwe model en hoop om binne drie jaar so ver daarmee te wees dat Potchefstroom 99% van sy vullis kan herwin.

Werner is iemand wat hou van ‘n uitdaging.

“Ek doen dit as ‘n passie. Ek is lief daarvoor om werk te skep en probleme op te los,” vertel hy.

Die projek het 18 permanente werke in die CID-area geskep. Verder het Werner saam met die CID ‘n nuwe staal asblik vir die Bult-area ontwerp. Dit word in die grond vasgebout en kan dus nie gesteel of beskadig word nie.

“Ons het reeds vyf van hierdie asblikke uitgesit en beplan om nog vyf binne die volgende twee weke uit te sit en sodoende die effektiwiteit daarvan te toets.”

Werner sluit af deur te sê hy het groot drome vir Potchefstroom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button