Borg ‘n sleutel vir Gimmies se Vleuelklavier-projek
Gimmies doen ook ‘n beroep op Alumni van die skool om met die skool in kontak te kom.
Die G-Arté Kunsondersteunersklub, Hoërskool Gimnasium se nuutste ondersteuningsklub, beoog om vir die skool ’n splinternuwe vleuelklavier aan te skaf deur middel van ’n fondsinsamelingsprojek. Jy kan nou ’n sleutel – of meer – borg om te help om Gimmies se musikale drome waar te maak.
Potchefstroom Gimnasium het die besluit geneem om die Potch GIM NPO te stig, ’n organisasie wat daarop gerig is om ’n georganiseerde, deursigtige en volhoubare struktuur vir fondsinsameling en hulpbronbestuur te bied.
Dit verseker dat die skool se ontwikkeling, geleenthede en uitnemendheid in alle relevante domeine bevorder word. Onder hierdie raamwerk funksioneer verskeie ondersteunings groepe – GSOK (Gimnasium Sport Ondersteunersklub), G-Arté en die Alumni – elk met hul eie fokusarea.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg om die G-Arté Kunsondersteunersklub aan u voor te stel. Die fokus van G-Arté sal spesifiek om die kunste se groei en geleenthede te bevorder deur samewerking, betrokkenheid en toegewyde ondersteuning,” vertel Pieter Marais, een van die direkteure van Potch GIM NPO oor G-Arté Kunste ondersteuners klub.
“Potchefstroom Gimnasium huisves een van die land se mees toegewyde en talentvolle onderwyserspanne, wat ons kunste studente inspireer, begelei en hul vaardighede ontwikkel. Alhoewel ons huidige kunste program reeds uitstekend is, streef ons na groter drome – drome wat slegs met volhoubare befondsing verwesenlik kan word.”
Die Yamaha GC2PE klavier het 88 sleutels, en daarom is die konsep eenvoudig: hulle verdeel die totale koste van die klavier in 88 dele.
“Individue, families of besighede kan ’n sleutel borg, en groepe kan saamstaan om een sleutel te borg. Dit maak dit vir meer mense moontlik om deel te neem en skep ’n persoonlike verbinding met die projek. Ons raam die waarde van die klavier op tot R500 000 om stygings in pryse en wisselkoersveranderings in ag te neem.” verduidelik Pieter.
Nie net sal Gimmies uit die vleuelklavier voordeel trek nie; dit sal hulle ook in staat stel om ’n been van ’n nasionale klavierkompetisie aan te bied. Omdat daar min instrumente van hierdie gehalte in die streek beskikbaar is, kan Gimmies as gasheer dien vir die gedeelte van die kompetisie wat aangebied word — ’n unieke geleentheid wat talent na die skool én gemeenskap bring. Die organiseerder is ’n oud-Gimmie en wil die skool as venue gebruik.
Om meer oor hierdie projek te lees of om ‘n sletel te borg, kan jy Gimmies se webtuiste by https://potchgim.co.za/gimmiekunste/ besoek.
Gimmies doen ook ‘n beroep op Alumni van die skool om met die skool in kontak te kom.
“As jy ’n oudleerder is, wil ons graag met jou in verbinding bly. Skakel in by ons oudleering-netwerk om nuus, kommunikasie en spesiale uitnodigings na toekomstige projekte en geleenthede te ontvang. Stuur asseblief jou naam, matriekjaar en kontakbesonderhede na johan@ schabbiesfin.co.za om op ons databasis geplaas te word,” sluit Pieter af.



