NewsNews

Drie rand bejaarde (82) aan

“As jy jou bek oopmaak, dan maak ons jou vrek!”

“As jy jou bek oopmaak, dan maak ons jou vrek!”

Tannie Hennie se gesig wys duidelik hoe sy aangerand is. Foto: Dustin Wetdewich
Tannie Hennie se gesig wys duidelik hoe sy aangerand is. Foto: Dustin Wetdewich

Dít is wat drie verdagtes vir die 82- jarige me. Hendrika Bezuidenhout gesê het nadat hulle by haar huis ingebreek het. Volgens Bezuidenhout, ook bekend as tannie Hennie, het sy Maandagoggend pas opgestaan toe die drie mans haar in haar huis in Smitstraat oorval het. Hulle het haar vasgebind en herhaaldelik geslaan.
Sy het aan die Herald vertel hoe die mans haar ring van haar vinger, asook haar horlosie, afgeruk het.
Bezuidenhout het tydens die aanval vir haar dogter om hulp geskree.
Haar dogter, me. Bets Botha, het op die drie verdagtes in die kamer afgekom waar hulle besig was om haar ma aan te rand.
“My dogter het vir hulle geskree om pad te gee, anders gaan sy hulle vrekmaak”, het Bezuidenhout gesê.
Die verdagtes het Botha uit die pad gestamp en weggehardloop.
“Ek het gesukkel om die aand van die voorval te slaap, maar ek is nou oor die meeste van die skok. Ek hoop net daar gebeur nooit weer so iets met my nie.”
Die polisie is onmiddellik na die toneel ontbied.
Volgens ao. Mpho Manyoba van die polisie het die voorval omstreeks 07:15 gebeur. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ’n saak van huisroof word ondersoek.
In ’n tweede voorval, slegs drie dae later op 15 Julie omstreeks 09:00, slegs ‘n paar blokke van waar Bezuidenhout aangerand is, is nog ’n bejaarde vrou in Kampstraat in haar huis vasgebind en aangerand. Die vrou is hospitaal toe geneem waar sy behandeling ontvang het vir beserings en skok, nadat ‘n man haar beroof het. Die verdagte is weg met haar bankkaart en kontant.
Met spertyd was meer besonderhede nog nie bekend nie.
Mooirivier Beskerming het na dié voorval alle beskikbare reaksievoertuie gebruik om na die verdagte in die omgewing te soek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button