’n Eerstejaarstudent is in ’n koma nadat haar motor op die R54 vanaf die rigtig van Vereeniging omgeslaan het.

Sumaré Prinsloo was op 11 Julie omstreeks 11:40 op pad terug van Johannesburg toe sy vermoedelik beheer oor haar voertuig verloor het en dit omgeslaan het.
Toe paramedici van ER24 op die toneel kom, het hulle die voertuig op sy dak in die veld gevind.
Sumaré was nog in die voertuig vasgekeer. Die brandweer het gehelp om die voertuig stabiel te maak sodat paramedici haar kon uithaal.
Sy is per helikopter na Mediclinic in Sandton geneem vir verdere behandeling.
Teen druktyd was dié 19-jarige B.Com. student en inwoner van Klawerhof dameskoshuis steeds in ’n koma. Sy word behandel vir bloeding op die brein.
Haar ouers wat in Mosselbaai woon, is deurentyd by haar in die hospitaal.



