
’n Man oorweeg regstappe teen die polisie nadat hy in hegtenis geneem is op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en ontvoering.
Dit volg nadat twee kinders, waarvan hy onbewus was, agter op sy bakkie geklim het en saamgery het. Een het later afgeval.
Mnr. Gerhard Engelbrecht was op Saterdag 11 Julie op pad om te help met ’n brand. Volgens sy verklaring het hy, nadat hy bystand gelewer het by die brand, stilgehou toe hy een van die werkers op die kleinhoewe se kinders sien. Hy het uitgevra oor die brand en daarna koers gekry terug huis toe.
Wat Engelbrecht nie geweet het nie, was dat twee jong dogters agter op sy voertuig geklim het. Volgens sy regsverteenwoordiger, Johan Horn, het Engelbrecht skielik ’n harde geklap op die dak van sy bakkie gehoor.
Hy het stilgehou waarna hy gehoor het hoe een van die dogters herhaaldelik vir hom skree: “Sy het geval!”
Hy het onmiddellik bystand aan die kind verleen en ’n ambulans ontbied om haar te help. Sy is na Potchefstroom Hospitaal geneem vir verdere behandeling. Volgens paramedici wat op die toneel was is sy nie ernstig beseer nie.
Engelbrecht het die voorval ook by die polisie aangemeld. Die volgende dag is hy terug na sy kleinhoewe waar hy die polisie saam met een van die kinders, asook ’n man wat hy aangeneem het die kind se pa is, gesien. Hy het stilgehou, waarna die man aggressief geraak het.
Hy het deurgaans vir Engelbrecht geskree “Jy gaan betaal,” het Horn gesê.
Engelbrecht het verkies om die gesprek by die polisiestasie voort te sit. Hy het met sy eie voertuig daarheen gery. By die polisiestasie is hy deur die polisie in hegtenis geneem.
Volgens Horn was hy vanaf 10:00 Sondagoggend tot omstreeks 17:00 by die polisiestasie. Tydens dié tydperk was Engelbrecht vir ongeveer drie ure in die selle toegesluit.
Nadat Horn betrokke geraak het, het die polisie hom vrygelaat, sonder dat hy in die hof moes verskyn of om borgtog te betaal.
Engelbrecht oorweeg ’n siviele eis teen die polisie omdat hy onregmatig in hegtenis geneem is.
“Ons is nou eers besig met die kriminele saak teen mnr. Engelbrecht. Ons wag om te hoor of die staatsaanklaer voortgaan met die saak. Daarna sal ons aandag gee aan die siviele eis,” het Horn gesê.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word die saak teen Engelbrecht steeds ondersoek.



