Vyf studente is na bewering by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus in hegtenis geneem vir die besit en handel van dagga.
Die studente is op 15 Julie omstreeks 13:30 in hegtenis geneem. Volgens adj.-off. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die polisie betroubare inligting verkry dat daar ’n dwelmtransaksie besig was om op die kampus te gebeur.
Die polisie wat bygestaan is deur die kampus se beskermingsdienste, het daarna die groep studente in hegtenis geneem.
Volgens Johan van Zyl, Puk woordvoerder, kom die arrestasies nadat beskermingsdienste en die polisie reeds vir ‘n geruime tyd dwelmhandel op die kampus ondersoek het. Volgens Manyoba word net een van die studente vervolg vir die besit en handel in dagga, omdat hy die enigste een is waarmee die bewyse verbind kan word. ‘n Groot hoeveelheid dagga is in die student se woonstel gevind. Volgens Manyoba is beslag gelê op al die daggaplante, asook die reeds verwerkte dagga wat in sy kamer gevind is.
Hy het op 20 Julie op aanklag van die besit van dagga in die landdroshof in die dorp verskyn. Hy is op borgtog vrygelaat, maar is intussen uit sy woonstel, wat naby aan die kampus is, gesit.



