Voetfoto’s maak verskil in Gimmie se veldtog teen seksuele geweld
Lank, kort, klein, groot, oud, jonk, geverf en gepoeier.

Lank, kort, klein, groot, oud, jonk, geverf en gepoeier.
Dit is die soort beelde wat in ‘n mens se kop verskyn wanneer honderde leerlinge, ouers, onderwysers en bekendes letterlik hulle voete teen seksuele geweld neersit.
Die Sit Jou Voet Neer-veldtog is die breinkind van Potchefstroom Gimnasium se Kara van der Merwe, ‘n graad 9-leerling met groot toekomsplanne. Sy het die idee vir die veldtog in die vervaardiging van die nuwe fliek, Dis ek, Anna gekry waarin sy ‘n rol vertolk. Die veldtog is nou ook deel van die fliek se nasionale bemarkingsveldtog.
Die veldtog het met woema op 21 Julie by Potchefstoom Gimnasium afgeskop toe Gimmies met ‘n fotosessie hulle voete neergesit het. Daar was allerhande oulike elemente en kleure wat elkeen se “voetfoto’s” uniek gemaak het.
Speelgoedtrekkers, kopskedels, “minions,” serpe, Smurfs en nog baie ander bykomstighede het op hierdie foto’s gepryk.
Gimmies kan dan die foto’s by ‘n uitstalling koop waar die geld dan ingesamel sal word wat aan organisasies soos Childline geskenk word om jong slagoffers van seksuele geweld te help.
Later gaan Gimmies dan ander skole ook uitdaag om die veldtog voort te sit met die hoop dat die bewusmaking soos ‘n veldbrand sal versprei.
Bekendes soos Bouwer Bosch en Marita van der Vyfer het reeds met groot outoriteit hulle voete neergesit.
Dit blyk dat hierdie veldtog by die dag net groter en groter word met die Facebookblad wat reeds binne ‘n week ‘n duisend “likes” gekry het.
Volg gerus die Facebookblad, Sit Jou Voet Neer, vir meer inligting



