Twee baba Labrador-hondjies is Saterdag by die DBV gesteel, maar gelukkig het die polisie en die DBV vinnig opgetree om die hondjies terug te kry.
Een van die werkers by die DBV het aan die voorsitter van die DBV, Darren Kruger, gesê hy het ’n vermoede wie die honde gesteel het.
Volgens Kruger het die werker twee mans, wat aan hom bekend is, gesien praat met ’n ander man. Die werker het ook bevestig dat die twee mans hom al genader het om vir hulle honde te gee.
Nadat Kruger ’n klag by die polisie gelê het, het hy die man met wie daar gepraat was geskakel en uitgevind die twee het hulself glo voorgedoen as werkers van die DBV. Hulle verantwoordelikheid was glo om huise vir die honde te kry. Hy het die twee mans R500 betaal waarna hulle vir hom die hondjies gegee het.
Kruger sê die man het die honde teruggegee en toe die regte prosedure gevolg om die honde regmatig aan te neem. Die honde is weer terug by hom,” sê Kruger.
Kruger is saam met die polisie na die ander twee se huis toe, waar hulle later erken het wat hulle gedoen het, sê hy.
Volgens Kruger was een van die mans naderhand op sy knieë terwyl hy gesmeek het dat die saak teruggetrek word.
Kruger het egter besluit om voort te gaan met die saak en die twee is in hegtenis geneem op aanklag van diefstal en huisbraak.
Kruger sê die enigste manier om diere by die DBV aan te neem is om ’n aansoekvorm in te vul waarna daar ’n huisbesoek gedoen word. As die huisbesoek slaag sal die dier gesteriliseer word, waarna die nuwe eienaar die dier kan huistoe neem.
Met baba-diere gaan die nuwe eienaar ’n ooreenkoms met die DBV aan dat hy/sy die dier(e) op ses maande sal terugbring om gesteriliseer te word



