Volkies se eerstes stel visier vir KHS halfeindstryd
Hoër Volkskool Potchefstroom se krieketseuns beleef hierdie seisoen ’n goeie tyd en net soos die lente se bloeisels, spruit daar ook nuwe en vars lewe op die krieketveld. Die eerstespan speel hierdie Saterdag teen Hoërskool Klerksdorp in die halfeindstryd van die Noordwesliga op hul tuisgrond. Die wedstryd begin om 09:00 en Volkies is vasberade om …
Hoër Volkskool Potchefstroom se krieketseuns beleef hierdie seisoen ’n goeie tyd en net soos die lente se bloeisels, spruit daar ook nuwe en vars lewe op die krieketveld.
Die eerstespan speel hierdie Saterdag teen Hoërskool Klerksdorp in die halfeindstryd van die Noordwesliga op hul tuisgrond. Die wedstryd begin om 09:00 en Volkies is vasberade om die eindstryd te behaal wat ook op eie bodem gespeel sal word.
Volkskool se staatmaker kolwers en boulers speel aantreklike, dog aanvallende krieket met ’n sterk kolflys wat onder meer kaptein Jandré Dreyer, Ruan Von Abo en Charles Louw insluit. Die boulers bring ook hulle kant en dit is weer eens bewys toe Cobus Crowther met asemrowende akkurate boulwerk Wesvalia in die kwarteindstryd ses van die bestes toegedien het.
Crowther het met 6/6 in vyf beurte geëindig en daarvoor gesorg dat Wesvalia vir slegs 107 uitgeboul word. Volkskool het lag-lag die gekose lopies in 9 beurte aangeteken met Dreyer wat ’n vyftigtal behaal het. Nou wag daar nog ’n Klerksdorp-span vir Volkies in die gestalte van KHS. Volkies behoort die gunsteling te wees as ’n mens hulle afgelope paar vertonings in ag neem.
Volkies het vir Gimnasium met vier paaltjies op Gimmies se terrein verslaan. Die o.15 spanne presteer ook voortreflik met die o.15 A-span wat Wesvalia met ’n massiewe 349 lopies gewen het.
Jannie Claasens was weer die staatmaker met die kolf 71 (30) en Robbie de Villiers 7/22 met die bal. Die o.15 B-span het ook vir Wesvalia met die kous oor die kop huis toe gestuur met ’n 234 lopie oorwinning, nadat hulle 470/6 in die eerste beurt aangeteken het.



