Daar sal van 2016 af parallelmediumklasse by die NWU Potchefstroom kampus aangebied word.
Volgens ’n verklaring van die institusionele kantoor se woordvoerder, Louis Jacobs sal parallelmedium-klasse aangebied word vir groot eerstejaarmodules.
“Dit sal ’n uitbreiding wees van ’n praktyk wat reeds in ’n mindere mate toegepas word op die Potchefstroomkampus, byvoorbeeld in B.Com. Geoktrooieerde Rekeningkunde (eerste tot derde jaar) en B.Com.Hons. Dit is ook in ooreenstemming met die huidige taalbeleid,” lui die verklaring.
Daar sal geen tolkdienste vir die klasse verskaf word nie. In die verklaring beklemtoon Jacobs dat Afrikaans as onderrigtaal hoegenaamd nie deur die besluite bedreig word nie.
Paul Maritz, Potchefstroom kampus studenteraad voorsitter het in ’n verklaring op Facebook gesê dat alhoewel hy nie gekant is teen parallelmediumklasse in groot modules nie “is geen waarborge aangaande die beskerming van moedertaalonderrig gegee nie – iets wat ons uitdruklik gevra het.
Geen konsultasie met studente het plaasgevind nie, en geen navorsing is oor die onderwerp gedoen, soos wat ons uitdruklik gevra het moet gebeur nie” lui Maritz se verklaring
Volgens Jacobs word daar in samewerking met die Taaldirektoraat gewerk, wat die praktiese implikasies van parallelmediumklasse sal verduidelik.
Die NWU raad het tydens ’n vergadering op 28 en 29 Oktober hierdie asook ander besluite geneem nadat daar protesaksie op die Potch kampus plaasgevind het.
Daar is ook besluit dat die veldtog om swart academici te werf en te behou deur die NWU voortgesit sal word. Op die Potchefstroom kampus sal dit beteken dat geen akademikus wat waarde kan toevoeg, minder verkieslik sal wees omdat hy/sy nie lesings in Afrikaans kan aanbied nie. In sulke gevalle sal tolkdienste vir Afrikaanssprekende studente beskikbaar wees.
“Ons sal ook ons kurrikula heroorweeg en maniere soek waarop ons kan voortgaan om ons akademiese inhoud te transformeer om Afrika en haar mense, denke en drome beter te weerspieël. Dit sal gedoen word ter ondersteuning van die NWU se visie om ’n internasionaal erkende universiteit te wees,” lui die verklaring van Jacobs.
Die Totius standbeeld was ook ’n kwessie wat bespreek is. Daar is ’n besluit gemaak om ’n dringende debat te voer oor dié kwessie asook ander simbole regoor die universiteit.
“Ons doelwit sal wees om kwessies van maatskaplike geregtigheid in die konteks van ons omvattende en gewaardeerde diversiteit aan te spreek,” het Jacobs deur middel van die verklaring gesê.
Volg die skakel en lees waar Prof. Van Schalkwyk duidelikheid gee oor die besluite.
Rektor gee duidelikheid oor parallelmediumklasse



