Rektor gee duidelikheid oor parallelmediumklasse
Ek is bewus van heelwat navrae en onduidelikheid ná die onlangse kommunikasie oor die Institusionele Bestuur se besluit om die toepassing van die NWU se funksionele taalbeleid op die Potchefstroomkampus by wyse van meer parallelmediumklasse uit te brei.
Prof. Herman van Schalkwyk skryf:
Ek is bewus van heelwat navrae en onduidelikheid ná die onlangse kommunikasie oor die Institusionele Bestuur se besluit om die toepassing van die NWU se funksionele taalbeleid op die Potchefstroomkampus by wyse van meer parallelmediumklasse uit te brei.
Ek verskaf graag meer agtergrondinligting wat die besluit verder verduidelik.
Die vier riglyne, wat interafhanklik van mekaar is en waarbinne die besluit uitgevoer moet word, is:
1. Parallelmedium kan slegs aangebied word in daardie klasse wat meer as een keer in die roostergroep herhaal word.
2. In so ‘n geval moet dit in die huidige roostergroepindeling inpas.
3. Daar moet verder genoeg getalle wees, wat daarop neerkom dat daar in praktyk genoeg studente vir ʼn Engelse roostergroep moet wees met die oorblywende studente wat in die Afrikaanse roostergroep(e) inpas.
4. Die doel is, binne die huidige finansiële omstandighede, dat die uitbreiding van dié parallelmediumklasse nié bykomende kostes meebring nie.
Die bedoeling is dat, indien dit prakties haalbaar is, parallelmediumklasse aan die hand van bogemelde vier beginsels in eerstejaarsklasse (vanaf 2016) toegepas word en dan na die tweede en verdere studiejare ontplooi sal word. Daar is dus nie sprake dat hierdie reëling die huidige, tweede en verdere studiejare raak nie.
Hierdie besluit is in lyn met ons funksionele, meertalige taalbeleid. Wat dus gebeur, is dat ‘n onderrigmediumopsie binne die taalbeleid (wat reeds in sekere modules op die kampus gevolg word) op ʼn beperkte wyse en binne sekere voorwaardes verder uitgebrei word.
Bykomend tot hierdie vier riglyne, is daar ook die praktiese probleem met die uitdeel en inneem van groot hoeveelhede tolkapparaat (80 en meer) in die kort tyd gedurende periodewisselings. Die uitbreiding van parallelmediumklasse sal hierdie situasie verlig.
Die proses sal noukeurig aan die hand van empiriese data bestuur word. Data van die gebruikspatrone, voorkeure en akademiese prestasies van die twee groepe gebruikers in die Afrikaanse en Engelse stroom ens, sal versamel word. Waar daar getolkte- sowel as parallelmediumklasse is, kan die parallelmediumgroep ook aan die hand van hierdie data met die tolkdiensgebruikers vergelyk word. Die bevindinge sal dan in die verdere beplanning van die uitvoering van die Universiteit se taalbeleid benut kan word.
Ek vertrou dat hierdie inligting groter duidelikheid sal bring, naamlik dat die meeste eerstejaarsklasse nié van volgende jaar af parallelmedium sal wees nie, en dat daar ook nie met tolkdienste weggedoen gaan word nie.



