Daar is Maandag by sewe woonstelle in een kompleks op die Bult ingebreek.
Daar kan nog nie bevestig word wat alles gesteel is nie, omdat die inwoners nog nie almal terug is van vakansie nie. Die polisie is besig om die saak te ondersoek.
“Dit gebeur gereeld oor die vakansietydperk, veral wanneer inwoners, wat meestal studente is, vir die vakansie huis toe gaan,” het Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming gesê.
Hy het inwoners gemaan om hul alarmstelsels aan te skakel as hulle weggaan vir die vakansie.

Van Vrydag tot Maandag is daar altesaam sewe inbrake deur Mooirivier Beskerming hanteer. Daar is nie ’n duidelike patroon oor die gebiede waar die inbrake plaasgevind het nie. Inbrake het plaasgevind in Geelhout-, Makou-, Francois-, Stils-, Spruit- en Kiepersolstraat.
Elektroniese toestelle soos televisies, skootrekenaars en selfone is meestal gesteel. In Kiepersolstraat is vuurwapens ook gesteel. By al die voorvalle het die verdagtes toegang tot die huise verkry deur die diefwering af te breek. In meeste gevalle was alarms nie aangeskakel nie. Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is daar baie wat mense kan doen om inbrake te probeer bekamp.
“Maak seker dat jy al jou noodnommers ken, hou jou selfoon in jou slaapkamer en maak seker daar is goeie beligting buite. As jy vir lank weggaan, vra jou buurman om jou pos uit die posbus te haal en om ligte deur die dag af te skakel. Dit is alles tekens dat daar niemand by die huis is nie. Moet nooit kontrakteurs alleen by jou huis laat werk nie. Maak seker oor die mense wat jy aanstel om in jou huis te werk. Deure wat oopstaan is ’n uitnodiging vir inbrekers. Maak seker daar is nie te veel plante waar ’n inbreker kan wegkruip nie. Ken jou bure en probeer ’n goeie verhouding met hulle opbou,” sê hy. Chaka het ook wenke gegee oor wat om te doen as daar wel in jou huis ingebreek word. Volgens hom moet die polisie dadelik geskakel word, daar moet altyd gewag word tot vingerafdrukke geneem en verklarings voltooi is voordat daar aan enigiets gevat word. Tensy dit dringend nodig is, moet privaat sekuriteitsmaatskappye nie in die huis toegelaat word, alvorens die polisie nie die toneel ondersoek het nie.



