NewsNews

‘Ek wil net my naam skoon kry’

’n Man is verlede week deur erge trauma toe ‘n beskrywing van sy voertuig verkeerdelik op verskeie buurtwag WhatsApp- en Facebook-groepe gesirkuleer is.

’n Man is verlede week deur erge trauma toe ‘n beskrywing van sy voertuig verkeerdelik op verskeie buurtwag WhatsApp- en Facebook-groepe gesirkuleer is.
Wat lyk soos ’n skermgreep van kringtelevisie, wys ’n groen BMW en ’n man by ’n kitsbank op dié groepe met dié boodskap: “So ontvang van die Miederpark buurtwag groep. Wees versigtig vir hierdie man. Hy druk goed in die OTM kaart-gleuf sodat jy nie kan geld trek nie. Dan maak hy of hy jou wil help en steel jou kaart. Hy ry ’n ligte groen BMW. Hy staan gewoonlik by FNB en Absa in Chris Hanistraat. Hy trek dan jou geld en ry dan na die volgende bank om nog geld te trek. Die voertuig in die foto is die BMW wat hy ry. Die voertuig is gestamp aan die linkerkant.”
’n Hoogs ontstelde Shanstone Buys (31), eienaar van Shanstone’s Auto Clinic, is deur ’n vriend van hom oor die boodskappe ingelig.
“Ek ry ’n baie unieke kar wat baie mense ken. Dit is hoe my vriend dadelik geweet het dit is my kar,” vertel Buys.

shanstone krappie
Volgens hom het hy geen idee waar die mense aan die inligting kom nie. Sover sy kennis strek is daar ook nie ’n klag teen hom gelê nie.
“Dit voel of iemand my teiken. Vir wat weet ek nie, my familie bly nog in Johannesburg terwyl ek my besigheid hier aan die gang probeer kry. Met hierdie goed wat versprei word, gaan dit my besigheid seermaak,” sê hy.
Volgens Jeanne Adriaanse, GPF voorsitter, is die inligting versprei sonder dat dit deur hulle koördineerders geverifieer is.
“Die inligting is vals en verkeerdelik op ‘n Facebook-groep en op sekere buurtwag- groepe geplaas. Dit is reeds deur die administrateur van die betrokke groep op Facebook (nie ‘n GPF groep) verwyder en die polisie het met diegene betrokke, in gesprek getree. Moet dus asseblief nie verder versprei nie,” was die boodskap wat Adriaanse op Facebook geplaas het nadat Buys by die polisie gaan kla het.
Buys sê dit het vir hom baie stres veroorsaak. “Dalk sien iemand my in die kar en besluit om my self te vang of leed aan te doen. Ek het twee jong kinders. Ek het gesukkel om te slaap,” vertel Buys.
Volgens Adriaanse is dit die GPF se beleid dat alle inligting eers deur koördineerders geverifieer moet word voordat dit versprei word. Sy het bevestig dat daar wel ’n geval was waar daar met ’n OTM gepeuter is, waarna geld gesteel is.
Volgens Buys het niemand nog eers vir hom om verskoning gevra nie.

Related Articles

Back to top button