Die 11 beskuldigdes wat tereg staan op twee klagte van moord ná die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa in Januarie vanjaar, sal weer op 17 Junie hier in die hof verskyn, wanneer die saak na verwagting verwys sal word vir ’n hooggeregshofdatum. Die uitstel is verlede Vrydag in camera gedoen om die identiteit van ’n minderjarige te beskerm wat ook nou onder die beskuldigdes is. Die minderjarige is in die sorg van sy moeder terwyl die ander se borgtog verleng is.
Borgtog van R10 000 elk is verlede Donderdagoggend hier deur landdros Jan Claassen van Kroonstad aan Miela Jansen van Vuuren (22), Cor Loggenberg (18) en Loedie van der Westhuizen jr. (18) toegestaan. Die drie asook die minderjarige seun is verlede Dinsdagmiddag by die ander beskuldigdes gevoeg wat ook tereg staan op die twee aanklagte van moord ná die dood van Jubeda en Tjixa. Cor is ’n matriekleerling aan Potchefstroom Gimnasium en ook hoofseun van die Brandwag seunskoshuis.

Nóg die Loggenbergs of die Van der Westhuizen families was die arrestasies te wagte, is deur hul families aan Parys Gazette,Die Herald se susterskoerant gesê. Naas die minderjarige en die ander drie beskuldigdes aan wie borgtog verlede week toegestaan is, is die ander beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen (46) wat ook die pa van Loedie is, Anton Loggenberg (49) wat die pa van Cor is, kapt. Henk Prinsloo (46), Fanie Oosthuizen (42), Wian van der Westhuizen (20), Muller van der Westhuizen (19) en Wikus van der Westhuizen (19). Klagte teen Johan Cilliers sr. en Johan Cilliers jr. wat vroeër onder die beskuldigdes was, is deur die staat teruggetrek. Die publiek en lede van die media is Donderdag ook as gevolg van die verskyning van ’n minderjarige gevra om die hofsaal te verlaat terwyl die formele borgaansoek hanteer is.
Die dood van Jubeda en Tjixa het gevolg ná meer as 40 boere gereageer het toe Boeta se pa, Loedie (73) daarin kon slaag om die noodknoppie te druk om hulp te ontbied ná die aanval op hom op sy plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik op 6 Januarie vanjaar.
Die boere het dadelik gereageer en is die oorledenes deur van die boere gearresteer op een van die buurplase. Die oorledenes is toe glo sodanig beseer dat hul kort na die arrestasie aan hul beserings in twee afsonderlike hospitale beswyk het. Die familie van die oorledenes en die EFF het na die voorval beweer dat die oorledenes glo agterstallige lone by Loedie van der Westhuizen wou gaan haal het wat glo deur Boeta aan hulle verskuldig was. Bewerings dat dit nie ’n plaasaanval was nie, is ook in sommige dagblaaie gemaak. Brig. Hangwani Malaudzi,
Valke-woordvoerder, wou hom nie uitlaat oor die beweringe nie, en het gesê dat mense nie die ondersoek moet vooruitloop met bewerings nie. Hy wou ook nie bevestig of daar enige selfoonvideo’s op die beskuldigdes se selfone gevind is nie. Die ondersoek het reeds ’n geweldige impak op die gemeenskap gehad, wat duidelik was uit die bewerings van intimidasie deur die Valke wat by herhaling in die hof gemaak is. Familie van die beskuldigdes, het te midde van die gemeenskap se skok en ongeloof oor die jongste arrestasies, voor die hofverrigtinge gesê dat hul glo geregtigheid sal geskied. Naas die klagte van moord staan Boeta ook tereg op ’n klag van intimidasie, terwyl Miela ook aangekla is op ’n klag wat verband hou met die vuurwapenwet.



