NewsNews

Nuwe Aardklop maak plek vir almal

Aardklop is om die draai en baie opwindende nuus is tydens Dinsdagaand se Aardklop vergadering bespreek.

Aardklop is om die draai en baie opwindende nuus is tydens Dinsdagaand se Aardklop vergadering bespreek.
Nie net gaan die nuwe Potchefstroom Kunstefees as Aardklop handel dryf nie, maar dié legendariese kunstefees gaan weer op die Bult gehou word, waar dit vir soveel jare gehou is.
Alexa Strachan, oud-Volkie en nuwe Aardklop bestuurder het Dinsdagaand bevestig dat weens die groot getal aansoeke wat reeds ontvang is, die produksie-aansoeke eers op 3 Junie (Vrydag) sal sluit.
“Ons mikpunt is om teen 23 Julie die produksie-bekendstelling in Potchefstroom te doen,” sê sy.
Verder poog die komitee om van hierdie jaar af vorentoe weer die breër Potchefstroom gemeenskap by die fees betrokke te kry.
Hulle vra daarom dat plaaslike kunstenaars en kunstenaars van Ikageng en Promosa ook moet aansoek doen om ‘n produksie vir die fees te doen.
Annette Combrink sê hulle gaan die week nog die media wat uitreik na Ikageng en Promosa, betrokke kry.
Daar gaan ook van hierdie jaar af gebruik gemaak word van ‘n kontantlose sisteem, sodat geen kontant transaksies op die feesterrein gedoen kan word nie.
Die kontantlose sisteem sal help om diefstal te vermy, omdat niemand dan met groot hoeveelhede kontant hoef rond te loop nie.
Daar sal tussen 450 en 500 OTM-masjiene op die terrein wees.
Indien feesgangers nie al die geld op hul kaarte gebruik nie, kan dit direk by Absa se fasiliteite weer omgeskakel word in kontant.
‘n Groot aspek wat Potchefstromers oor die afgelope paar jaar begin vervreemd het van Aardklop, was die verskriklike duur toegangsfooie wat betaal moes word om op die feesterrein te kom.
“Ons wil graag ‘n oop fees hê,” maar daar is baie wettige aspekte wat in ag geneem moet word,” sê Strachan.
Alhoewel daar nog geen vaste besluit oor die toegangsfooie geneem is nie, is daar wel bevestig dat indien daar ‘n toegangsfooi gevra word, dit net vir veiligheidsaspekte sal wees, en ook ‘n minimale bedrag.
“Bekostigbaarheid is vir ons van kardinale belang. “Daar is nog net 122 dae oor voor Aardklop aanbreek en daar is nog baie wat gereël moet word.
“Ons moet die fees amper van voor af begin reël, ons het min tyd, maar ons kan wel sê dat hierdie fees ‘n sukses gaan wees,” sê Strachan.
“Hierdie is ‘n geloofstap wat ons neem om die wa deur die drif te kry” sê Chris de Bruyn. Produksie aansoeke kan aan potch-feesprogram@gmail.cmo gerig word en vir stalletjies kan tot 24 Junie aan potchfeesstalletjies@gmail.com gestuur word. Die nuwe feeskantoor is in Molenstraat 69 en die nommer is (018) 175 0175.

Related Articles

Back to top button