
’n Prettige en avontuurlike uitstappie in die Drakensberge het vir ‘n NWU Puk-student in ‘n nagmerrie ontaard toe hy twee nagte alleen in die ysige berge moes deurbring.
Jan-Hendrik (Henk) Marx (22), ‘n geologie en geografie student in sy finale jaar, het tydens ‘n staproete in die Drakensberge verlede naweek weggedwaal van die groep af.

Die groep van sewe het Donderdagoggend vroeg uit Potchefstroom vertrek en dieselfde dag nog begin stap. Na sowat 6 kilometer het die groep begin opbreek en twee van die stappers was nie meer by hulle nie. Sowat 7 kilometer later het Marx en die oorblywende vier vriende van die roete begin afdwaal.
“Ons het die ander probeer roep, maar die wind het opgesteek en dit het begin donker word,” vertel hy.
Hulle het die eerste aand gekamp en die volgende oggend weer verder begin stap. “Ons het aanhou klim, maar het steeds nie die staproete gevind nie. Daar was ook geen bordjies om ons te wys waar ons was nie.”
Dit was Vrydagmiddag toe Marx van die res van sy vriende geskei is. Die voorste stappers was baie vinnig en voor hy sy oë kon uitvee, was hy sowat ‘n kilometer agter hulle. Hy het geskree, maar die wind het erger gewaai en sy vriende kon hom nie hoor nie.
Dit het toe baie mistig geraak en hy kon ook nie meer sien waarheen hy gaan nie. Sy eerste aand alleen in die berge was baie uitdagend.
“Daar was geen grotte naby nie, so ek moes teen die berg kamp. Dit het begin ysreën en dit was baie koud.” Al sy klere was nat en hy kon weens die nattigheid ook nie ‘n vuur maak om homself warm te hou nie. Boonop was die lug reeds so dun dat hy gesukkel het om asem te haal. Hy het probeer om te bel vir hulp, maar daar was geen selfoonsein nie.

“Ek het die hele tyd gebid en toe ek weer sien, het ek een blokkie sein op my foon gehad – net genoeg om ‘n noodoproep te maak.” Hy het toe die nooddienste gebel en in kontak gekom met sy meisie. Toe hy die volgende oggend wakker word, het hy besef dat hy nie kan afklim nie omdat hy langs ‘n kloof is. Hy moes toe verder teen die berg opklim. Die nooddienste het daardie oggend om 08:00 na hom begin soek, maar toe dit Saterdagaand weer begin donker word, het hy besef dat hulle hom nie gaan kry nie. Teen daardie tyd was sy kos al klaar en moes hy begin skuiling soek vir die nag.

“Ek moes in ‘n stadium my rugsak teen die berg afgooi om te keer dat ek nie self val nie,” sê hy. Hy het later by ‘n grot gekom en daar skuiling gevind teen die reën. Henk was nat en koud en kon nie ophou bewe nie. Die volgende oggend het hy besef dat niemand hom gaan kry nie, en hy het begin om teen die berg af te klim. In die proses het hy per ongeluk paaie gekruis met sy redders – vier stappers van Pretoria. “As ek nie op daardie oomblik afgeklim het nie, het hulle my gemis.”

Hulle het vir hom kos en water gegee en hom gehelp om terug te kom na ‘n basiskamp, vanwaar hy sy ma gebel het. “Die hele ondervinding was vir my baie erg en ek het baie gehuil en gebid. Omdat ek weet van die natuur het ek ook geweet in watter moeilikheid ek was, maar die Here het my daaruit gekry,” sê hy.

Hoewel Henk baie seer het en moontlik ook longontsteking opgedoen het, is hy dankbaar dat hy nie verkluim het nie en dat hy die nagmerrie van ‘n staptoer oorleef het. “Die Here het vir my skuiling gegee en die mans oor my pad gestuur om my te help.
“Dit was vir my baie erg, maar na hierdie ondervinding weet ek dat ek enige iets kan doen,” sê hy.
Henk is nou by sy ouers in Pretoria waar hy die nodige mediese behandeling kry. Hy wil so gou moontlik weer terugkom Potchefstroom toe. Die NWU het vir hom beradingsdienste by Ingryp aangebied. “Hy en sy ouers sal die nodige ondersteuning van ons kry,” sê Johan van Zyl, woordvoerder van die NWU se Potchefstroomkampus.
