NWU Mafikeng kampus gesluit tot na vakansie vir veiligheid
'n Groep van ongeveer 200 studente van die NWU Mafeking kampus het 20 September buite die kampus met die polisie slaags geraak, en nadat die polisie probeer het om die groep uitmekaar te dryf, het studente teruggehardloop tot op die kampus.
‘n Groep van ongeveer 200 studente van die NWU Mafeking kampus het 20 September buite die kampus met die polisie slaags geraak, en nadat die polisie probeer het om die groep uitmekaar te dryf, het studente teruggehardloop tot op die kampus. Botsings het op kampus voorgeduur en die polisie het rubberrondtes en traangas afgevuur, nadat hulle voordurend met klippe bestook is.
Dit nadat dié groep studente, om en by 10:00, in lesingsale en kantore ingehardloop, aktiwiteite onderbreek en personeel en studente geïntimideer het.
Onrus op die Mafikengkampus het tot ná 20:00 gisteraand voortgeduur.
Volgens dié kampus se Facebook-blad sal hulle gesluit wees tot en met 9 Oktober.
Volgens die polisie is vier studente gedurende die voorvalle gearresteer en sal hulle van openbare geweld aangekla word. Behalwe geringe skade aan die sekuriteitkameras by die ingang, is geen ander universiteitseiendom beskadig nie.
Die kampusrektor, prof Mashudu Davhana-Maselesele, het gisteraand ‘n kort vergadering met ‘n paar van die studenteraadslede gehad, maar hierdie vergadering is skielik beëindig nadat sekere politieke strukture op die kampus dit ontwrig het. Die studenteraad en politieke strukture het laat gisternag ‘n massavergadering gehou, maar die uitkoms van dié vergadering is nog nie bekend nie.
Terwyl die situasie fyn dopgehou word, het kampusbestuur besluit om die kampus te sluit ter wille van die veiligheid van personeel en studente. ‘n Besluit rakende aktiwiteite vir die res van die week sal op ‘n latere stadium geneem word.
“Die huidige onrus word deur ‘n klein groepie studente veroorsaak en dit is duidelik dat die meerderheid studente op die voltooiing van hul akademiese programme wil fokus,” het Clement Manoko, Uitvoerende Direkteur: Korporatiewe Kommunikasie, in ‘n verklaring gesê.
Die kampusrektor het met studente gekommunikeer en hulle ernstig versoek om met hul akademiese aktiwiteite voort te gaan om te verseker dat dié wat hard gewerk het, hulle finale eksamens vir 2016 kan aflê. Sy het hulle ook weer daarop gewys dat die interdik wat vroeër vanjaar deur die universiteit verkry is, steeds geldig is en toegepas sal word.
Die institusionele bestuur van die NWU het gistermiddag, 20 September ‘n geskeduleerde vergadering gehad. Gedurende hierdie vergadering is voorstelle aanvaar van hoe en volgens watter proses universiteit klasgelde gaan hanteer in die lig van die Minister se aankondiging op 19 September. Die universiteit sal ‘n deeglike en gepaste konsultasieproses met alle belanghebbers rakende die klasgelde vir die 2017-akademiese jaar volg.
Hierdie voorstelle sal Donderdag, 22 September tydens ʼn vergadering van die NWU-raad voorgelê word vir bekragtiging, en ʼn aankondiging sal gemaak word sodra dit bekragtig of goedgekeur is, waarna die konsultasieproses sal begin.
“Dit moet beklemtoon word dat bestuur empatie met ons studente het en dat die NWU – soos in die verlede – alle moontlikhede sal benut om verdienstelike studente optimaal te help om hul finansiële verpligtinge na te kom. Bestuur wil beklemtoon dat ons gereed en bereidwillig is om na ons studente se bekommernisse te luister, maar dit kan slegs gebeur as alle betrokke partye daartoe verbind is om die tersaaklike kwessies te hanteer op ʼn wyse wat verantwoordelik is, ondersteunend is om die universiteit vorentoe te neem, en daarop gemik is om volhoubare oplossings te vind,” het Manoko in die verklaring gesê.
Tot op hede het geen voorvalle op die Potchefstroomkampus plaasgevind nie.
Die situasie op al drie kampusse word fyn dopgehou.



