Potchefstroom se eie Van Gogh
Helen Jonker kan dalk beskryf word as Potchefstroom se eie jong Van Gogh. Die 10-jarige skilder het onlangs die eerste prys gewen in die termyn se Young Entrepreneurs nasionale kompetisie. Sy het deurgedring na die finale kompetisie wat aan die einde van die jaar gehou word.
Helen Jonker kan dalk beskryf word as Potchefstroom se eie jong Van Gogh. Die 10-jarige skilder het onlangs die eerste prys gewen in die termyn se Young Entrepreneurs nasionale kompetisie. Sy het deurgedring na die finale kompetisie wat aan die einde van die jaar gehou word. Helen het hierdie kompetisie gewen met haar skilder onderneming wat sy onlangs begin het.
Helen was 9 jaar oud toe sy begin het om te skilder. Sy geniet dit om blomme te skilder en haar gunsteling is rose en papawers. Haar leermeester is haar ouma, wat self ook ‘n kunstenaar is. Vir Helen is haar ouma die beste skilder en sy kan nie ophou praat oor wat haar ouma haar alles geleer het nie.

Helen ontvang tuisonderrig van haar ma Helanie en haar ouma het op Vrydae gehelp met haar klasse. Dit was toe wat sy besluit het om Helen te leer skilder. Dadelik kon die gesin sien dat Helen ‘n besondere talent het, en het haar aangemoedig om haar talente na te streef en meer te begin skilder. Hoewel Helen haar eie unieke styl het, het haar ouma se skilderstyl haar baie beïnvloed.
Helen neem entrepreneurskap klasse by Susan Fouché, wie se seun Janu Fouché verlede jaar die Young Entrepreneur kompetisie gewen het vir sy innoverende bordspeletjie.
Helen het hier geleer hoe om haar eie onderneming te begin met haar skilderkuns en ook hoe om pryse op haar skilderye uit te werk. Sy het reeds twee van haar skilderye so verkoop. Sy het tydens ‘n Entrepreneur Mini Mark klein kaartjies verkoop waar sy op elkeen ‘n unieke blompatroon geskilder het. Al haar kaartjies het op die dag uitverkoop en sy is nou besig om nog te skilder om weer te verkoop. Helen skilder gereeld vir familie en vriende, maar baie van haar skilderye hang in haar ma se huis.

Haar ouers is ook nou besig om vir haar ‘n ateljee in die buitekamer van hulle huis in te rig om al haar verdere kunswerke daar te kan skep. Volgens haar ma is Helen ‘n regterbrein kind, maar hoewel sy eerder sal skilder as om teoretiese oefeninge te doen, hanteer sy self die bestuur van haar onderneming. Sy het self vir haar ‘n sakeplan opgestel en ‘n video gemaak waarin sy haar kuns adverteer. Haar onderneming se naam is Helen Jonker Art en sy kan op Facebook ook gevind word. Kyk na haar video hier:
https://www.youtube.com/watch?v=-pUKNBXKCrw&feature=em-share_video_user




