CommunityNews

NWU se sonkar ryg toekennings in!

Hulle het dit gedoen! Die Noordwes-Universiteit se sonkarspan het oor agt dae 3524.9km, vanaf Pretoria tot in Kaapstad tydens die Sasol Solar Challenge gery.

Hulle het dit gedoen! Die Noordwes-Universiteit se sonkarspan het oor agt dae 3524.9km, vanaf Pretoria tot in Kaapstad tydens die Sasol Solar Challenge gery.

Die span, wat as gevolg van ‘n fratsongeluk tydens die tydtoetse byna nie kon wegspring nie, het almal verras toe hulle Saterdag 1 Oktober in vierde plek geëindig het, drie toekennings ingepalm het, en ook vereer is vir twee rekords wat hulle laat spat het.

Hulle het die African Spirit Award gewen, die toekenning vir Tegnologie en Innovasie gewen, en het die toekenning vir Span-professionaliteit en Veiligheid ingeoes. Hulle is aangewys as die Afrika span wat die verste afstand nóg met ‘n sonkar kon aflê, asook die Afrika span wat die langste afstand op een dag kon aflê: ‘n verstommende 611km!

Die span van die NWU het heelpad met groot internasionale kanonne soos die Delft-Universiteit van Tegnologie in Nederland en die Tokai-Universiteit van Japan skouers geskuur. Die Kecskemet Universiteit van Hongarye het derde geëindig met Nederland as wenners.

Die NWU-span se kar, die Sirius X25, het vanaf 24 September tot 1 Oktober vanaf Pretoria na Kaapstad teen 13 ander spanne meeding. Die NWU-span bestaan uit 25 ingenieurswesestudente wat vanjaar in die “Challenger-klas” deelgeneem het. Die bepalings van dié klas behels dat die ingeskrewe kar vier wiele moet hê, slegs van sonenergie gebruik mag maak om die hele roete te voltooi en slegs ‘n maksimum oppervlakte van ses vierkante meter se sonpanele mag gebruik.

Die NWU het in 2012 aan hulle eerste Sasol Solar Challenge deelgeneem, met slegs drie maande se voorbereiding en ‘n baie beperkte begroting. Hulle is toe bo alle verwagtinge as wenners van die Olympia-klas aangewys. Hulle het ook die Suid-Afrikaanse rekord verbeter vir die langste afstand wat afgelê is. Hulle het ook die gesogte Internasionale FIA- (Federation Internationale de l’Automobile) toekenning vir Hernubare Energie ontvang.

In 2014 voltooi hulle die resies in die vierde plek, en verbeter weer die rekord vir die Suid-Afrikaanse span wat die verste afstand op ‘n enkele dag kon aflê.

Prof Albert Helberg, spanleier, sê hulle het verskeie verbeteringe aan vanjaar se sonkar aangebring wat dit in staat gestel het om ongeveer 20% beter as hul vorige sonkar kon funksioneer.

Die Sirius X25 is van die grond af deur studente met die hand gebou. Verskeie borge het bygedra tot die reuse pryskaartjie van net meer as R1 miljoen wat vandag om die sonkar se nek hang.

In hulle eerste Sasol Solar Challenge in 2012 kon die span net meer as 1 000 kilometer aflê. In 2014 tydens dieselfde kompetisie, net meer as 2 000 kilometer en tydens verlede jaar se Wêreld Solar-uitdaging kon hulle nét meer as 3 000 kilometers aflê.

Hoewel die direkte roete van vanjaar se uitdaging net 2 000 km beslaan, het die span 3524.9km afgelê deur bykomende roetes te ry. Die span wat die verste afstand oor die agt dae kon aflê, is as wenner gekroon.

Die Sirius X25 weeg saam met sy batterye ‘n skrale 196 kg. Dit kan ‘n topspoed van 135 km per uur bereik, is 4,5 m lank en 1,8 m breed. Dit is hoofsaaklik van koolstofvesel gebou met geselekteerde aluminiumonderdele.

Helberg sê die kompetisie was ‘n wonderlike ervaring en ‘n voorreg om Suid-Afrika te kon verteenwoordig. “Ons beplan om die Suid-Afrikaanse vlag volgende jaar verder te laat wapper tydens die Bridgestone World Solar Challenge in Australië. Ons sal ‘n beter sonkar hê en sal probeer om ons vorige en ander rekords te laat spat. Ons bedank graag al ons borge en ondersteuners – sonder hulle sou hierdie nie moontlik gewees het nie.” het Helberg gesê.

Sien hierdie video toe die span oor die wenstreep ry.

Nog stories oor die NWU se Sonkar

‘n Duisend kilometer oor twee dae!

NWU se sonkar maak amok!

NWU se sonkar veg teen sterk winde!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button