
Twee verdagtes is gewond tydens ‘n plaasaanval wat vanoggend (18 Oktober) omstreeks 07:30 ongeveer 15km buite Potchefstroom naby Boshoek plaas gevind het.
Volgens ‘n verklaring van ER24 het paramedici met aankoms, twee mans buite die plaashuis aangetref. Die twee het albei skietwonde aan hulle bene opgedoen. Hulle is behandel en glo onder polisie begeleiding deur die provinsiale ambulansdienste na Laratong hospitaal geneem.
Sover bekend het ses verdagtes die huis binne gekom waarna die slagoffer dadelik plaaslike owerhede en boere van die area ontbied het. Na bewering het die owerhede daarin geslaag om die vermeende plaas aanvallers te verjaag en die twee gewonde verdagtes is in hegtenis geneem. Daar word steeds na die ander verdagtes gesoek.
Die verdagtes het glo in ‘n rooi Volkswagen Polo en in ‘n wit Isuzu enkelkajuit bakkie gevlug. Die verdagtes is glo gewapen.



