
Die Potchefstroom Animal Welfare Society (Paws) meen die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is besig met ’n heksejag teen hulle.
Dit volg nadat die NDBV in Oktober ’n besoek aan Paws gebring het nadat hulle glo klagtes oor Paws ontvang het.
Paws het sowat ’n jaar gelede van die nasionale liggaam afgestig. Die NDBV was hewig daarteen gekant. Die afstigting het sover die Herald kon vasstel, beteken dat Paws nie meer aan die regulasies van die NDBV onderworpe is nie.
Op 13 Oktober het die NDBV ’n besoek aan Paws gebring nadat hulle glo inligting van die gemeenskap ontvang het dat dinge glo sleg gaan by Paws. Volgens Andries Venter, bestuurder van Paws, het NDBV inspekteurs, Jaco Pieterse en Meg Wilson, hom geskakel om koffie te drink sodat die vyandigheid tussen die twee organisasies uitgeklaar kan word.
“Ons help hulle steeds met ondersoeke wat in ons gebied val,” het Venter gesê. Met hul aankoms het die inspekteurs aan Venter verduidelik dat hulle graag deur die hokke wil stap, maar dat dit glo nie ’n inspeksie is nie. Hulle het egter daarna ’n waarskuwing aan Paws gerig oor onder meer siek diere en oorvol en vuil hokke.
Darren Kruger, voorsitter van Paws, sê in daardie stadium was daar nie dadelik ’n veearts beskikbaar nie, omdat een op verlof was. Hy het op sy eie koste die veearts laat terugkom van verlof af om die welwillendheid van Paws te bewys en die beweerde tekortkominge aan te spreek.
Die NDBV inspekteurs het op 18 Oktober weer ’n besoek aan Paws gebring, waarna hulle beweer het dat daar steeds siek diere in die hokke is, waarna nog ’n waarskuwing aan Paws gerig is.
Volgens Venter het Paws geweier om die tweede waarskuwing te teken, voordat die inspekteurs nie vir die veearts kon wys watter diere siek is nie. Die NDBV het glo geweier en die perseel verlaat. Op 21 Oktober het die NDBV weer by Paws opgedaag.
Jaco Pieterse van NDBV het aan die Herald gesê Venter het geweier dat hulle op die perseel kom.
“Omdat ons bekommerd was oor die welstand van die diere, het ons probeer om ’n lasbrief van die landdros te kry, maar ons aansoek is deur ’n senior landdros afgekeur.”
Venter sê hulle meen die NDBV tree kwaadwillig teen hulle op en voer ’n vendetta teen hulle omdat hulle afgestig het.
Kruger het ook sy kommer uitgespreek oor wat die NDBV probeer bereik deur Paws aanhoudend te probeer ondermyn.
“Hulle probeer skade aanrig teen ’n organisasie wat die gemeenskap dien en afhanklik is van die gemeenskap se steun,” sê Kruger.



