Mense se lewens word in gevaar gestel omdat verkeersbeamptes nie na 22:00 in die stad diens doen nie.
Volgens Hans Jurie Moolman, voorsitter van die DA koukus in Potchefstroom, word ’n kultuur van oortreding geskep omdat mense weet dat beamptes nie na ure werk nie. Hy het al meer as ’n maand gelede aan die munisipale bestuurder geskryf om die probleem te bespreek.
“Ek het tot op datum geen reaksie gekry nie,” sê Moolman.
Die feit dat verkeersbeamptes nie meer later as 22:00 in die aand werk nie, spruit uit ’n dispuut tussen beamptes en die stadsraad waar verkeersbeamptes oortyd gewerk het en nie daarvoor betaal is nie.
Die dispuut kom reeds ’n baie lang pad. Die Herald het vroeër berig dat daar aanvanklik R3.1 miljoen deur die munisipaliteit aan die beamptes betaal is, maar dat die werksure van beamptes steeds nie soos ooreengekom, aangepas is na die uitbetaling nie.
Die situasie sloer al sedert 2012 en hoewel die beamptes na wat verneem word nie omgee om na ure te werk nie, kan hulle dit nie doen sonder vergoeding nie.
Volgens Moolman het dit nou op ’n punt gekom waar mense se lewens in gevaar gestel word deurdat daar nie na-ure wetstoepassing plaasvind nie.
Dit is geen geheim nie en baie motoriste oortree blatant deur byvoorbeeld rooi verkeersligte, spoedbeperkings en ander verkeersreëls te verontagsaam
Beamptes het glo onderneem om verlengde ure te werk, mits hulle uitstaande oortyd betaal word en ook die versekering kry dat hulle betaal sal word vir ekstra ure wat hulle dan werk. Die situasie is tans dat daar na 22:00 geen plaaslike verkeersbeamptes aan diens is in die stad nie. Volgens Moolman ignoreer die munisipale bestuurder alle navrae van hom rondom die kwessie.
“Ons het sedert die verkiesing nog net een raadsvergadering gehou en dit was om nuwe raadslede in te sweer. Deur nie maandeliks vergaderings te hou nie, ontneem die munisipale bestuurder, speaker en burgemeester ons van die meganisme wat ons moet gebruik om probleme binne die munisipaliteit aan te spreek,” het Moolman gesê.
*Die munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Willie Maphosa, het gesê die munisipaliteit sal aanstaande week op die Herald se navraag reageer, omdat die arbeidsverhoudingebestuurder nie op kantoor was nie.



