
’n Oud-polisie kolonel en twee medebeskuldigdes het Dinsdag op aanklagte van bedrog in die hof verskyn.
Oud lt.kol. Motshegwa Johannah Montsi (51), Felicia Andrews (43) en Mamachine Fioroza Leping (42) wat almal in die opleidingsafdeling van die polisie gewerk het, word daarvan aangekla dat hulle vals eise vir reis- en verblyf van R14 000 ingedien het. Die saak is uitgestel tot 29 November vir die prokureurs om nadere besonderhede te bekom. Volgens kol. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het Montsi bedank voordat ’n interne ondersoek geloods kon word.
“Die Valke hanteer die kriminele klag,” het Mokgwabone gesê.
Volgens kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke in Noordwes, het al die beskuldigdes ’n dagvaardiging ontvang om in die hof te verskyn. Daar is altesaam nege klagtes van bedrog teen die drie gelê.
Montsi het glo nadat die beweerde bedrog aan die lig gekom het, dadelik bedank. Die Valke het op 25 Oktober ’n veldtog in Brits geloods waar hulle die syfers bekend gemaak het van arrestasies van staatsamptenare in Noordwes wat hulself aan bedrog skuldig gemaak het.
“Van Januarie tot September vanjaar is ses lede van verkeersdepartemente, drie lede van die departement van Justisie en agt SAPD-lede weens korrupsie in hegtenis geneem.
In dieselfde tydperk is ‘n polisiekonstabel vir vyf jaar tronk toe gestuur vir korrupsie waarby R3 000 betrokke was.
“Is R3 000 regtig die moeite werd om jou werk te verloor en tronk toe te gaan?”, het die hoof van die Valke in die Noordwes, genl. Mbana tydens die veldtog gesê.



