Die reaksiespan van die Mooirivier Beskerming sekuriteitsmaatskappy het Donderdag 17 November geleer om slange te vang met die hulp van Arné Hobbs (11).

Arné het hul kantoor gaan besoek waar hy hulle eers meer vertel het van die tipe slange wat in Potchefstroom voorkom, hoe gevaarlik hulle is en wat gebeur as jy deur ‘n giftige slang gepik word.
Daarna het hy gedemonstreer hoe om ‘n slang op die regte manier te vang sonder om jou eie lewe, of die slang se lewe, in gevaar te stel.

Die reaksiespan van Mooirivier Beskerming het toe om die beurt elkeen ook die slang gevang en versigtig terug in sy vanghouer geplaas.

Arné sê dat hy gereeld oproepe ontvang van mense wat slange in hul erwe of huise gevind het, maar is nie altyd beskikbaar om te kom uithelp nie. Hy het dit toe goed gedink om die manne van Mooirivier Beskerming op te lei om self slange te vang wanneer hy nie by ‘n toneel kan uitkom nie.

Arné is ook die regte persoon vir hierdie tipe opleiding, omdat hy alles en nog meer van slange weet. Hy hanteer al slange van 2-jarige ouderdom af, en dit is nou al vir hom tweede natuur om met die glibberige reptiele te werk.
Alhoewel hy al sowat 60 keer in sy lewe deur ‘n slang gepik is, het dit hom nie afgeskrik nie en bly sy gunsteling troeteldier steeds ‘n slang.

Indien iemand ‘n slang in sy of haar erf opmerk, moet hulle dadelik Mooirivier Beskerming skakel by (018) 297 0796. Besoek gerus Arné se Facebook blad vir meer inligting oor slange by Arne Hobbs – Wise as Serpents.



