
Die polisie het Sondag weer die gemeenskap gewaarsku teen die hoë voorkoms van voertuigdiefstal in Potchefstroom.
Volgens brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, toon voorlopige ondersoeke dat veral Polo voertuie op die Bult en ander areas naby die universiteit gesteel word.
Mokgwabone het weer die gemeenskap, veral studente, gemaan om seker te maak dat hulle voertuie gesluit is en dat mense nie voertuie vir lang periodes in die straat parkeer nie.
“Maak seker dat jou voertuig binne jou erf of op kampus parkeer is,” het Mokgwabone gesê.
Dit is egter nie moontlik vir eerstejaarstudente om hulle voertuie op kampus te parkeer nie.
Volgens Kiewiet Scheppel, NWU woordvoerder, is daar al sedert 2015 drie toegewyde parkeerareas waar eerste- en tweedejaar studente kan parkeer.
“Dit is die astrohokkiebane, die kerk in Presidentstraat en op die ingenieurskampus, naaste aan die duikweg na die hoofkampus,” het Scheppel gesê.
Volgens haar word die area by die kerk in Presidentstraat tans omhein en parkeerplekke word daar ingerig. Die tussentydse reëling is dat die studente nou by Hombré mag parkeer.
Daar is ook sekuriteitsbeamptes by die hokkiebane, asook by die kerk wat toegangsbeheer toepas.
“Koshuisstudente mag by hul koshuise parkeer – maar nie na die hoofkampus toe ry vir parkering nie,” het Scheppel gesê.
Volgens Mokgwabone word voertuie meestal in die aand gesteel.
Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het gesê dat die diefstal van voertuie tydens skool en universiteitsvakansies afneem.




