
ʼn Gesin van vier is Maandagaand (27 November) dood in hulle huis aangetref.
Volgens lt. kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, is die lyke van ʼn 30-jarige vrou, 46-jarige man en twee seuns (nege en twee jaar oud) in hulle huis in Ikageng gevind.
Volgens Funani was die man en vrou die aand voor hulle gaan slaap het in ʼn argument betrokke. Die man het later die aand die twee seuns uit hulle kamer gaan haal waarna hy sy 13-jarige stiefdogter gestuur het om haar ma te gaan soek.
Met die dogter se terugkoms het sy egter die man se lyk in die huis aangetref waar hy aan ʼn tou gehang het. Sy het dadelik die polisie in kennis gestel wat die drie ander lyke in die huis gevind het. Volgens Funani word drie sake van moord ondersoek en ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen.
“Die motief vir die moorde is nog onbekend,” het Funani gesê.
Die provinsiale kommissaris, lt. gen. Baile Motswenyane het die voorval ten sterkste veroordeel.
“Dit is ontstellend om voorvalle soos dié in die tydperk van 16 dae van aktivisme teen geweld op vroue en kinders te sien , het sy gesê.




