Gru-moord op bejaarde skok gemeenskap
Inwoners van Potchefstroom en omliggende gebiede is steeds geskok oor die sinnelose en gewelddadige moord op mnr. Adriaan (Boeta) Smit (69). Hy is vermoor slegs ’n week na sy seun se troue. Hy en sy vrou Lily, wat al 28 jaar in die stad woon, is Vrydagoggend deur ‘n man met ’n voorwerp wat soos ’n …
Inwoners van Potchefstroom en omliggende gebiede is steeds geskok oor die sinnelose en gewelddadige moord op mnr. Adriaan (Boeta) Smit (69). Hy is vermoor slegs ’n week na sy seun se troue.
Hy en sy vrou Lily, wat al 28 jaar in die stad woon, is Vrydagoggend deur ‘n man met ’n voorwerp wat soos ’n staalpyp lyk, aangeval. Mev. Smit is tans in ‘n kritieke toestand in die hospitaal.
Volgens Trudie Botha van Electro Sekuriteit is daar om 03:53 op kringtelevisie beeldmateriaal gesien hoe ’n man oor die heining spring. Hy het glo by die egpaar se bakkie gepeuter. Smit is na buite om ondersoek in te stel nadat hy iets gehoor het, en is toe oor die kop geslaan. Hy is daarna deur die man na die kombuis gesleep waar sy vrou ook erg aangerand is.
Botha is omstreeks 05:35 deur ’n kliënt geskakel nadat die bure onraad vermoed het. Hulle is dadelik na die toneel en die polisie is ontbied.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die bure ook om 05:50 ’n polisiebeampte, wat op pad werk toe was, voorgekeer. Paramedici van IMR is ook ontbied. Hulle het Smit op die toneel dood verklaar. Lily is na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling.

Botha het op veiligheidsgroepe inligting oor die Smitte se bakkie wat gesteel is, bekend gemaak.
Suzette Oosthuizen van AfriForum se Mooibank buurtwag het inligting ontvang oor ’n bakkie wat voor iemand se huis gerol, op sy wiele beland het en weer verder gery het.
Sy was nog onbewus van die moord, maar het vermoed dat die voertuig gesteel is, en het CB Sekuriteit ontbied om bystand te verleen.
Kort daarna het sy Botha se boodskap ontvang oor die gesteelde voertuig wat geïdentifiseer is as die voertuig wat die buurtwag besig was om te jaag.
Die voertuig het vir ’n tweede keer gerol voordat die buurtwag en sekuriteitsmaatskappy die bestuurder van die bakkie vasgetrek het.
Die polisie het die man in hegtenis geneem. Pfunzo Netshiangolwe (29) het Maandag vlugtig in die landdroshof in die stad verskyn op aanklag van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en roekelose en nalatige bestuur. Die saak is tot 8 Desember uitgestel sodat die beskuldigde regsverteenwoordiging kan bekom. Hy bly in aanhouding.
Volgens Jacques Smit, die egpaar se seun, sterk sy ma tans in die Milpark Hospitaal in Johannesburg aan. “Sy is nog kritiek met bloeding op die brein,” het hy gesê. Jacques, wat die naweek voor die aanval getroud is, het sy pa beskryf as ’n baie vriendelike mens wat tyd gehad het vir almal. Smit se begrafnis sal op 13 Desember om 14:00 uit die AGS Miederpark-gemeente plaasvind.



