NewsNews

Deur konstante pyn het sy sukses behaal

Cornia Pretorius, ’n joernalis en dosent in Kommunikasiestudies aan die NWU se Potchefstroomkampus, het bewys dat nie eers ’n konstante pyn jou drome en sukses hoef te belemmer nie. In haar tyd by die universiteit is sy die taak gegee om ’n boek Forging unity: The story Northwest University’s first ten years te skryf oor …

Cornia Pretorius, ’n joernalis en dosent in Kommunikasiestudies aan die NWU se Potchefstroomkampus, het bewys dat nie eers ’n konstante pyn jou drome en sukses hoef te belemmer nie.
In haar tyd by die universiteit is sy die taak gegee om ’n boek Forging unity: The story Northwest University’s first ten years te skryf oor die samesmelting van die drie kampusse – Mafikeng, Potchefstroom en Vaaldriehoek.
Hierdie boek is onlangs gepubliseer en bevat baie in diepte geskiedenis van die NWU se wording, maar wat dit so besonders maak is die omstandighede waaronder Pretorius die boek moes skryf.

Dit was 'n trotse oomblik vir Cornia Pretorius toe haar boek gepubliseer is. Hier is sy by die bekendstelling saam met die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi.
Dit was ‘n trotse oomblik vir Cornia Pretorius toe haar boek gepubliseer is. Hier is sy by die bekendstelling saam met die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi.

’n Konstante pyn

In 2004 na haar eerste kind gebore is, het sy ’n vreemde sensasie in haar kakebeen begin voel. Sy beskryf dit as ’n elektriese stroom wat deur haar onderkakebeen en tande beweeg wanneer sy praat of eet. “Dit kon by tye baie erg raak.
Dit het soms vir ’n maand of twee gebly, dan weggegaan vir ’n ruk, maar altyd weer teruggekom.”
Soms was dit vir haar te pynlik om te praat of te eet. Sy het aanvanklik gedink dit is net ’n klier en het toe die pyn baie erg geraak het, die klier laat uithaal. Dit was egter nie die probleem nie.
“Dit is nogal redelik traumaties as jy wakker word na ’n operasie wat veronderstel was om iets reg te stel en jy voel dadelik weer dieselfde pyn,” sê sy.
Teen die tyd toe sy Potchefstroom toe getrek het, was dit al vyf jaar later, en het die pyn al hoe erger geword.
Sy het duisende rand spandeer aan dokters om te probeer uitvind wat fout was, maar niemand kon vasstel wat die pyn veroorsaak nie.
In haar eerste jaar as dosent by die Puk het sy min of meer elke dag pyn gehad. Aan die einde van die jaar het sy uitgevind dat sy trigeminale neuralgie het.
Sy het toe medikasie gekry om te help met die pyn, maar om die toestand te behandel moes sy vir ’n breinoperasie gaan, wat tyd sou neem om te herstel.
“Aan die een kant was ek bang vir die operasie en aan die ander kant het ek besig geraak en kon ek nie tyd af vat by die werk om te herstel na die operasie nie.
“Teen die tyd toe ek gediagnoseer is, het ek amper aan die boek begin werk en ek wou nie die kans vat om die werk aan die boek te staak nie.”
Die toestand veroorsaak dat ’n mens aanvanklik ’n pynlike sensasie van kort periodes het, en later begin daardie periodes al langer raak tot die pyn konstant is.
“Aan die einde voor ek die operasie gehad het, was dit so. Ek kon nie slaap aan die linkerkant van my gesig nie. Die pyn was baie intensief.”
Sy onthou ’n tydperk waar haar toestand haar gesin ook begin beïnvloed het.
“Jy raak kort van draad. Jy wil nie praat nie, want as jy praat is dit seer. Party dae dan kan ek nie meer die pyn vat nie, dan neem ek net vloeistof in sodat ek nie hoef te kou nie.
“In ’n stadium kon ek vir drie weke nie slaap nie.”
In daardie tyd het sy aan die boek begin werk maar met die pyn en die politieke onstabiliteit op die kampus het die werksomstandighede vir haar baie onaangenaam geraak en sy het bedank.
Intussen het sy vir ’n biopsie gegaan en op 12 Desember 2014, haar laaste dag by die werk, het sy die uitslae gekry wat die nuus gedra het dat sy borskanker het.
Haar plan was om die eerste drie maande na haar bedanking die boek klaar te skryf, maar tussendeur die chemoterapie wat in Januarie 2015 begin het, en die konstante pyn in haar mond, was hierdie taak onmoontlik.
Die skryf van die boek het langer geneem, aangesien omstandighede nie aan haar kant was nie, maar sy het deurgedruk.
Uiteindelik het sy kans gesien vir die operasie en na al haar harde werk, swaarkry en pyn het sy die boek klaar geskryf, haar pynlike kondisie en haar kanker oorwin.
Vandag gee Pretorius weer klas en is sy ‘n goeie voorbeeld van wat uithouvermoë en harde werk is.

Haar lewe in ’n neutedop

Pretorius het in die laat 80’s, toe die politiek in Suid-Afrika baie interessant begin word het, haar belangstelling in politiek en joernalistiek ontwikkel.
In matriek het sy ’n beurs by Beeld gekry en het by die toe PU vir CHO kommunikasie kom studeer en later oorgeskakel na Politieke Wetenskap waarin sy haar honneurs gedoen het.
Na haar honneurs het sy by verskillende publikasies in Pretoria en Johannesburg gewerk.
“Ek het oor alles waaraan jy moontlik kon dink geskryf – eiendomme, landdroshofverslaggewing, munisipaliteite en Pretoria gesondheid.” Sy het ook oor sport geskryf en het die eerste Wêreldbeker in 1995 gedek.
Toe gaan daar ’n pos oop vir ’n onderwysverslaggewer en dit is toe dat sy begin spesialiseer het in onderwys.
“Onderwys was net regtig amazing, dit was so lekker om dit te dek.” Dit het ook vir haar baie nuwe geleenthede as onderwysjoernalis gebied. In 1997 het sy die prys gewen vir die onderwysverslaggewer van die jaar en die volgende jaar was sy die naaswenner.
Sy het ’n genootskap gekry waarmee sy vir ses maande lank Oxford toe kon gaan.
“Ons was net 12 joernaliste oor die hele wêreld wat hiervoor gekies is en ons kon navorsing doen oor ‘n onderwerp in ons veld wat ons interesseer.
“Dit was net na 9/11 so die wêreld het baie verander en skielik werk ek saam met al hierdie verskillende mense met hul verskillende perspektiewe.”
Daarna het sy die African Educational Journalist of the Year Award gewen, wat ’n baie groot toekenning is vir onderwysverslaggewers oor die hele Afrika.
“Dit is hoekom ek sê joernalistiek maak nogal vir ‘n mens deure oop.”
Sy het deur haar joernalistiek al verskeie plekke besoek soos Brittanje, Parys, Engeland en China. Toe sy terug keer van Oxford het sy in verskeie rigtings gegaan en by verskeie ander koerante gewerk, maar het meestal in die onderwys gebly.
In 2007 het sy haar tweede dogter gehad en toe hoor sy haar ou kollega en vriendin, dr. Thalyta Swanepoel, gaan weg by die Puk waar sy joernalistiek aangebied het.
“My ouers bly in Potch en ek en my gesin het deurgery om vir Thalyta te kom groet en toe doen ek sommer aansoek vir die pos wat oopgegaan het.” Einde 2009, na haar derde kind se geboorte het sy by die Puk begin werk.
Dit was vir haar ’n uitdaging om uit die praktyk te beweeg en in die akademie te begin.
“Eintlik begin jy heeltemal van voor af in ’n nuwe loopbaan.”

Related Articles

Back to top button