Local newsNews

Gesondheid is jou grootste rykdom

Professor Mariëtte Swanepoel, ’n biokinetikus verbonde aan die Noordwes Universiteit, het met die VLU Leeuhartak oor gesondheid en welstand gesels.

Die VLU Leeuhartak het op 20 Mei hul takvergadering gehou waar lede die geleentheid gehad het om waardevolle raad oor gesondheid en welstand te ontvang van professor Mariëtte Swanepoel, ’n biokinetikus verbonde aan die Noordwes Universiteit.

Professor Swanepoel het met die lede gesels oor die belangrikheid van oefening, voldoende rus en gesonde eetgewoontes, veral gedurende die ouer wordende jare. Volgens haar begin mense reeds vanaf ongeveer 30-jarige ouderdom spiermassa verloor, wat dit noodsaaklik maak om gereeld aktief te bly.

“Enige beweging is beter as geen beweging,” het professor Swanepoel beklemtoon.

Sy het verduidelik dat oefening nie ingewikkeld of duur hoef te wees nie. Eenvoudige aktiwiteite soos stap of selfs oefeninge vanuit ’n stoel kan ’n groot verskil maak. Weerstandsoefeninge is ook belangrik en kan maklik tuis gedoen word deur jou eie liggaamsgewig te gebruik, opstote teen ’n kas te doen of selfs blikkieskos as gewigte in te span.

Volgens professor Swanepoel help gereelde oefening om spierkrag en balans te verbeter, bevorder dit hartgesondheid en help dit om buigsaamheid en mobiliteit te behou. Daarbenewens kan fisieke aktiwiteit ook simptome van depressie en angs verminder. Sy het tydens die vergadering verskeie balansoefeninge gedemonstreer om te wys hoe bejaardes hul risiko vir valbeserings kan verminder.

Leeuharttak se sekretaresse doen ‘n balanstoertjie.

Die gesprek het ook gefokus op die belangrikheid van voldoende slaap. Professor Swanepoel het verduidelik dat goeie nagrus noodsaaklik is vir breinfunksie en geheue, die immuunstelsel versterk, emosionele balans ondersteun en help om energievlakke vir die dag wat voorlê te herstel. Sy het aanbeveel dat bejaardes tussen sewe en agt uur slaap per nag behoort te kry.

Gesonde voeding speel volgens haar ’n ewe belangrike rol in ’n gesonde leefstyl. ’n Gebalanseerde dieet dra by tot sterk bene deur voldoende kalsium en vitamien D, ondersteun spieronderhoud deur genoeg proteïene en help om siektes soos diabetes en hoë bloeddruk te voorkom.

“Fokus op vars vrugte en groente, volgraanprodukte vir vesel, maer proteïene soos hoender, vis en bone, asook voldoende waterinname,” het professor Swanepoel gesê.

Sy het bygevoeg dat die toepassing van hierdie beginsels bejaardes kan help om langer, meer aktiewe en onafhanklike lewens te lei, met beter fisiese én geestelike gesondheid.

Haar boodskap aan die lede was eenvoudig maar kragtig: “Health is wealth.” Gesondheid is jou grootste rykdom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button