
’n 29-jarige vrou is Woensdagoggend 28 Februarie vir dood gelos nadat sy gruwelik aangerand en verkrag is.
Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die vrou, wie se identiteit nie bekend gemaak mag word nie, omstreeks 06:00 op pad huistoe nadat sy by ’n vriendin oorgeslaap het. Sy het in Walter Sisulurylaan geloop waarna sy ’n man gevra het waar sy ’n taxi terug na Promosa kan kry.
Die man het vir haar gesê dat daar nie daardie tyd van die oggend taxis is nie, maar het aangebied om saam met haar te loop aangesien hy ook in Promosa woon. Hy het saam met haar geloop tot by die treinspoor naby Piet Bosmanstraat waar die man haar met ’n skêr aangeval, verkrag en beroof het.
’n Verbyganger het die polisie gebel nadat hy die vrou omstreeks 07:00 naby die spoorlyn opgemerk het. Die vrou was skaars aan die lewe toe die polisie, kort nadat hulle in kennis gestel is op die toneel gekom het.
“Met die polisie se aankoms het hulle die vrou met veelvuldige steekwonde in haar gesig aangetref. Sy is van haar selfoon, handsak en skoene beroof,” het Manyoba gesê.
Sy is dadelik in ‘n kritieke toestand na Potchefstroom hospitaal vir verdere behandeling geneem. “Sy het Vrydag ’n oogoperasie ondergaan. Ons is baie bly dat sy lewe, maar glo dat sy het nog berading na die voorval nodig” het die familielid gesê. Sy is Saterdag (3 Maart) uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan.




