NewsNews

Eienaar van Amerikaanse veghond vertel sy kant van die storie

"My hond het ons net beskerm"

’n Man wat Donderdagaand (12 Julie) in hegtenis geneem is nadat sy Amerikaanse veghond ’n man gebyt het, sê sy hond het eintlik maar net hulle familie probeer beskerm.

Hendrik Heymans sê sy skoonsuster se twee dogters het Donderdagaand huis toe geloop toe hulle op die hoek van Retiefstraat en Beyers Naudélaan deur twee mans van ’n selfoon en tablet beroof is. Toe hulle by die huis kom om hulp te kry, het hy aangebied om saam met hulle polisiestasie toe te loop om ’n klag te gaan lê.

“Aangesien ons almal weet wat in die nag hier gebeur, kan ons nie meer alleen loop nie. Ek het toe my hond, Tyson, saam met ons laat stap,” sê Heymans.

Hendrik Heymans en sy beste vriend Tyson. FOTO: Marianke Saayman
Hendrik Heymans en sy beste vriend Tyson. FOTO: Marianke Saayman

Op pad na die polisiestasie het een van die meisies glo een van die rowers langs die pad herken. Haar kêrel, wat saam met hulle geloop het, het toe die rower gekonfronteer en daar het ’n onderonsie ontstaan.

“Tyson het seker aangeneem die man is besig om haar kêrel seer te maak en voor ek hom kon keer, het hy die man aan die been beetgehad,” sê Heymans.

“Hy het maar net sy mense probeer beskerm.”

Hy sê die vermeende rower het voorgestel dat die onderonsie tussen hulle uitgepraat word eerder as wat dit by die polisie aangegee word.

“Ek het toe besef ek gaan in elk geval nie die foon en tablet terugkry nie en dit toe maar gelos,” vertel hy.
Heymans het sy hond huis toe geneem en beplan om daarna polisiestasie toe te gaan om steeds die saak aan te meld.

Intussen het Mooirivier Beskerming op die beseerde man afgekom en is die polisie ontbied.

Volgens ao. Mpho Manyoba, woordvoerder van die polisie, het die beseerde man gewys in watter rigting Heymans met sy hond is en hy is op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in hegtenis geneem, maar is die volgende oggend weer vrygelaat.

Hendrik se vrou Hester Heymans was baie bly om die familiehond weer te sien. FOTO: Marianke Saayman
Hendrik se vrou Hester Heymans was baie bly om die familiehond weer te sien. FOTO: Marianke Saayman

Die polisie moet die ondersoek afhandel waarna ’n aanklaer sal besluit of daar ’n saak is of nie.
Tyson is dieselfde aand van die voorval na PAWS geneem waar hy tot Woensdag (18 Julie) was voordat Heymans hom kon gaan haal.

Volgens PAWS bestuurder Herman van der Sluis het PAWS die hond gevat om hom uit ’n moontlik gevaarlike situasie te neem.

Hendrik is Woensdagmiddag na PAWS toe, waar hy vir die eerste keer na die voorval herenig is met sy beste maat.

“My hond is ’n liefdevolle hond. Hy sal jou dood lek. Hy is nie aggressief nie. Al wanneer hy aggressief raak is wanneer jy naby sy familie kom of een van my kinders probeer aanvat. Ek is net baie bly ek kon my hond terugkry, want dit is my kind daai,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button