ʼn Man (in sy 30’s) is Vrydag 19 Oktober in ʼn ongeluk dood waarin verskeie voertuie op die N12 hoofweg tussen Potchefstroom en Fochville in ‘n botsing betrokke was.
Volgens ER24 woordvoerder, Inneke van Huyssteen, het nog drie mense tydens die ongeluk matig tot ernstige beserings opgedoen.
ER24 paramedici het net voor 13:00 by die toneel gekom waar hulle ʼn voertuig aan die kant van die pad sien lê het met twee mense binne die voertuig. Een van die mans in dié voertuig het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die ander persoon in die voertuig het matige beserings opgedoen.
Nog drie voertuie was ook by die ongeluk betrokke. Een persoon het ernstige beserings opgedoen en ʼn ander matige beserings.
Ambulansdienste het die pasiënte na nabye hospitale geneem vir verdere behandeling.
Die omstandighede rondom die ongeluk is nog onbekend, maar die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.




