NWU Simfonie-orkes betower
Die Noordwes-Universiteit se simfonieorkes vier vanjaar hul tiende bestaansjaar. Hul tweede konsert, Musique de la Cathédrale, wat Saterdagaand in die NG Miederpark kerk plaasgevind het, het die gehoor in vervoering gehad.
Die Noordwes-Universiteit se simfonieorkes vier vanjaar hul tiende bestaansjaar. Hul tweede konsert, Musique de la Cathédrale, wat Saterdagaand in die NG Miederpark kerk plaasgevind het, het die gehoor in vervoering gehad.
Die program het geopen met die gevoelvolle Intermezzo uit die opera, Cavalleria Rusticana van Pietro Mascagni (1863-1945). Hoewel die musiekstuk vir ‘n klein orkes geskryf is, het die dirigent, André Oosthuizen baie suksesvol daarin geslaag om dit vir ‘n groter simfonie-orkes te verwerk.
Die tweede musiekkeuse op die program was ‘n hoogtepunt. Dr. Yvonne-Marie Brand was die solis trompetspeler wat Johann Nepomuk Hummel se moeilike trompetkonsert in E-mol majeur met die nodige vaardigheid en flair uitgevoer het. Brand is tans die direkteur van die Noordwes-Unviersiteit se musiekskool.
Die konsert is afgesluit met Saint-Saëns se gepaste dramatiese orrelsimfonie – Simfonie nr. 3 in C mineur, opus. 78 – wat een van die hoogtepunte in die Romantiese musiek-era is.
André Oosthuizen is vir die afgelope sewe jaar die orkes se dirigent. Nadat hy sy meestersgraad in dwarsfluit voltooi het, het hy op orkesleiding begin fokus. Hy studeer onder leiding van die Duitse dirigent, Gerben Grooten en woon verskeie meestersklasse in Suid-Afrika en Europa by. “Daar is iets magics daaraan om ‘n dirigent te wees. Om te dink ek swaai letterlik net ‘n stokkie en die klanke van verskillende instrumente kom bymekaar om die mooiste musiek te skep”, sê André verwonderend.

Die orkeslede is meestal Potchefstroomse inwoners. Die orkes word deur musikante van elders aangevul vir die instrumente waarvan daar nie plaaslike spelers is nie. Die orkes bestaan uit studente wat musiek en ander rigtings studeer, dosente van die universiteit en lede van die gemeenskap wat nog gereeld oefen en wil optree. Hulle oefen elke Woensdag in die konservatorium.

‘n Bekende Engelse dirigent, Simon Rattle het eens gesê: “Orkeste is soos mense. Hulle is die soniese verpersoonliking van hulle gemeenskap.” Indien dié woorde waar is, is ons as gehoor bevoorreg om deel van ‘n baie dinamiese en talentvolle gemeenskap te wees. Die Noordwes-Universiteit simfonie-orkes verdien ‘n entoesiastiese gehoor wat hul met elke optrede ondersteun daarom moet almal solank 29 September in hul dagboeke aanteken wanneer hulle die laaste dag van Aardklop om 15:00 ‘n uitvoering in die Sanlam-Ouditorium gee.



