President van Tarentaal steek draak vir oulaas
“Die kabinet van Tarentaal verstaan nie hoekom die NWU nie die byeenkoms (150 jaar feesviering) amptelik ondersteun nie, maar dis oukey. Dis fine. Dis Sharp. Ons aanvaar dit so en ons respekteer die besluit, rêrig prof. Dan. Daar is nie Kgwadi gevoelens nie”. So sê die president van Tarentaal tydens sy toespraak Saterdag, 30 November …
“Die kabinet van Tarentaal verstaan nie hoekom die NWU nie die byeenkoms (150 jaar feesviering) amptelik ondersteun nie, maar dis oukey. Dis fine. Dis Sharp. Ons aanvaar dit so en ons respekteer die besluit, rêrig prof. Dan. Daar is nie Kgwadi gevoelens nie”.
So sê die president van Tarentaal tydens sy toespraak Saterdag, 30 November by die Snowflake gebou met die 150 jaar feesvierings van die universiteit.
Oud en nuwe Pukke het met hierdie geleentheid saam teruggedink en oor die toekoms besin en sommer net heerlik saamgekuier.
Die pres. van Tarentaal het vir oulaas sy nuwe kabinet aan almal onthul.
Eerste in die bekendstellingseremonie was die minister van ontgroening belas met versapping, verpulping, meul en kerf van eerstejaars se ledemate – sy edele Moulinex Minnaar. Hy is tans sonder werk.
Die minister van Jool, belas met pandemonium, stomende passie, klapperhaarmatrassie, ek-weet-nie-wie-sy-was-nie – sy edele Kortasem Kriel.
Die minister van intervarsity wat belas is met hoofpyne, maagpyne en oorpyn is sy edele Panado Pieterse.

Die alomteenwoordige en immergewilde minister van kamoeflering, sy edele J.A.N Jan was ook teenwoordig al kon niemand hom sien nie.
Die minister van skedelbreuk, beenbreuk, armbreuk, en teebreek – sy edele Gips Griesel.
Die sesde minister is die van eksotiese speserye, seevisserye, slapperige, papperye en middernagtelike lekkernye – die bobaas mottevanger, sy edele diepbevrore Woldraad Woltamatie.
En laastens maar nie die minste nie, is die minister van verdediging, belas met instandhouding van artillerie, infanterie, kavallerie en lavatrie, sy edele Sarel Spoelstra.

In sy kragtige rede het die president ook ’n “waar is die dae” oomblik gehad waarin hy die volgende waarhede kwytgeraak het:
* waar is die dae dat in 1869 toe vyf studente gemassa (weggebly het van die klas af) het, die hele universiteit toegemaak het?
* waar is die dae dat boom nog iets was waarin kinders gespeel het?
* waar is die dae toe plastieksakke gratis was en ons kondome moes koop?
Die pres. van Tarentaal het dit ook beklemtoon dat dit die ouer, ervare geslag is wat die huidige en toekomstige jongelinge moet oplei en onderrig sodat hulle die geskiedenis in sy volle essensie kan verstaan en ervaar. Hy het bekommerd bygevoeg “Daar is steeds te veel van hulle wat dink die Spice Girls is Ina Paarman se “band”, hulle dink die Rolling Stones is ‘n steengroef by Lichtenburg, hulle is onder die indruk dat U2 ‘n vloekwoord in Hillbrow is, Led Zeppelin die generiese ekwivalent van Ritalin is en dat Hooty and the Blowfish ‘n selfmoord bende kurpers is.”
Die edele president het sy toespraak finaal afgesluit en sy wens uitgespreek dat die 150 jarige mylpaal die gehoor moet noop om te verifieer, logies te redeneer, te interpreteer, te eksperimenteer, te begryp, te verstaan en te verklaar.



