Trein tref student se bakkie op treinspoor
Die voertuig het op die treinspoor gestaan toe die trein die passasierskant van die bakkie getref het.
‘n Koshuis eerstejaarsdinee-fotosessie is in die wiele gery toe ‘n Shosholoza-Meyl trein ‘n stilstaande bakkie van ‘n NWU-student op die treinspoor naby die Potch Dam vanaand (Saterdag, 25 Januarie) getref het.
Volgens ooggetuies op die toneel het ‘n klomp studente voor hulle koshuisdinee, foto’s by die treinspoor geneem toe die ongeluk plaasgevind het. Die voertuig het op die treinspoor gestaan toe die trein die passasierskant van die bakkie getref het. Niemand is in die ongeluk oorlede nie, maar die bestuurder van die voertuig is met beserings hospitaal toe geneem.
Tshepo Makgala, die toesighouer van die trein wat in die ongeluk betrokke was, het op die ongelukstoneel vertel dat hy ongeveer 18:00 vanaand ‘n stilstaande wit Toyota Hilux-bakkie op die treinspoor waargeneem het.
“Die voertuig het heeltemal stilgestaan. Teen die tyd wat ons die Hilux gesien het, het ons alreeds begin om die trein te stop. Daar was ‘n klompie dames op die bakkie se agterbak en toe die trein nader kom het die drywer eers in die bakkie geklim en probeer om weg te trek. Dit was te laat en ons het die bakkie getref,” vertel Makgala.
Makgala noem ook dat die trein nou stilstaande vir die res van die aand op die spoor sal bly aangesien daar te veel skade is om na hulle bestemming (Parkstasie in Johannesburg) te reis.
Lees meer in komende week se Potchefstroom Herald oor die voorval.




