Bring terug jou bib boeke – boetevry
J.B Marks kondig boekamnestie aan van 16 Maart - 4 April

Biblioteke van die J.B Marks Munisipaliteit het ‘n amnestieperiode van 16 Maart – 4 April aangekondig wat beteken die publiek kan enige uitstaande boeke en ander biblioteekitems terugbesorg sonder dat hulle boetes hoef te betaal.
Diegene wat boeke in hierdie periode terugbring, staan ook ‘n kans om ‘n boek van Van Schaik Boekwinkel gratis te ontvang. Van Schaik wil met hierdie vrygewige inisiatief Nasionale Biblioteekweek (11-22 Maart) vier.
Volgens Louise Markram, is daar altesaam 2 450 boeke tussen die biblioteke uitstaande. “Ons verstaan dat boeke somtyds verlore raak, maar ons vra dat die mense die boeke wat steeds in hulle besit is asseblief terugbring. Ons vra ook dat mense sal aanbied om vir biblioteekboeke wat verlore geraak het, te betaal.”
Louise sê duisende items raak jaarliks weg en die geld wat aangewend word om dit te vervang, kan eerder vir beter dinge aangewend word. Ons wil eerder ons energie en geld aanwend om ongeletterdheid uit te roei en die jeug te bemagtig.
Die tema van hierdie jaar se Biblioteekweek is “Biblioteke – jou ewige lewensmaats.”



