Drie beeldende kunstenaars van Potchefstroom het besluit om hulle “familie” in die uitvoerende kunste te ondersteun.
“Die Koronavirus pandemie en ons nasionale staat van inperking maak dit onmoontlik vir uitvoerende kunstenaars om nou ‘n inkomste te verdien. Dis nou bietjie tyd dat kunstenaars vir kunstenaars omgee,” sê Dedré Victor, wat self ‘n visuele kunstenaar is en voorheen as kunsopvoedkundige by die Noordwes-Universiteit gewerk het.
Sy en twee van haar vriende, Cronjé Lemmer en Roy Vierra Forté, beplan ‘n kunsuitstalling waar die fondse met die verkoop van die werke alles net so aan die Teaterbydstandsfonds (TBF) geskenk sal word. Cronjé en Roy is bekend vir hulle kunswerke in die kollografiese medium en bied ook klasse aan. Die driemanskap daag kunstenaars regoor die land uit om gedurende die afsonderingsperiode elke dag ‘n kunswerk te skep. “Maar as jy nie elke dag ‘n werk kan produseer nie, maak dit ook nie saak nie. Die doel met die 21 dae is om elke dag te werk en teen die einde kunswerke te kan voorlê wat verkoop kan word,” sê Dedré.
Die titel van hulle uitstalling is “Create 21” en hulle nooi kunstenaars om kunswerke in enige medium te skep. Die werke se grootte moet 15cm x 20cm (A5 grootte) wees en moet verkieslik ongeraam wees. Dit sal teen R100 elk verkoop word.
Enige iemand wat belangstel om aan die projek deel te neem, kan ‘n e-pos na Create.21days@gmail.com stuur of die facebookblad Create Hope besoek. Meer besonderhede rondom die kunsuitstallings sal later gekommunikeer word. Vir telefoniese navrae, skakel Dedré Victor by 082 922 8078.
Die Teaterbystandsfonds is die enigste hulpfonds in die vermaaklikheidsbedryf en bestaan al 53 jaar as welsynsorganisasie. Alle fondse word slegs deur donasies en fondsinsamelingsprojekte verkry. Die TBF verskaf permanente finansiële hulp aan behoeftige, siek en brandarm bejaardes wat eens professioneel in die vermaaklikheidsbedryf gewerk het. Hulle verskaf ook finansiële bystand aan diegene wat in nood verkeer met onverwagte mediese onkostes of om ‘n begrafnis te betaal. Alle beroepe binne die uitvoerende kunste word gedek.