CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Rampkomitee maak plan om honger inwoners te voed

‘n Rampverligtingskomitee is verlede week gestig om hulp aan sowat 13 000 huishoudings in J.B Marks te verskaf wat gedurende die staat van nasionale inperking geen inkomste verdien nie.

‘n Rampverligtingskomitee is verlede week gestig om hulp aan sowat 13 000 huishoudings in J.B Marks te verskaf wat gedurende die staat van nasionale inperking geen inkomste verdien nie. Dié komitee pleit by inwoners om geld te skenk om aan hierdie families kos te voorsien. Alle fondse word deur die Potchefstroomse sakekamer bestuur.

“Na raming is daar ongeveer 13 000 huishoudings in die JB Marks munisipale area wat nou hongersnood in die gesig staar. Dit kom neer op 65 000 inwoners wat nie kos het om te eet nie”, sê Hans Jurie Moolman, ‘n plaaslike prokureur van Potchefstroom wat saam met ander rolspelers in die gemeenskap verlede week oor die hongernood in ons direkte area besin het.

Die nasionale staat van inperking, wat nou met ‘n verdere twee weke verleng is, tref mense wat daagliks ‘n inkomste verdien die hardste. Hierdie mense is dagloners, straatverkopers, karwagte, en mense wat ‘n skropwerkie hier en daar kry om aan die lewe te bly. In sommige huishoudings is kinders die hoof.

Mense uit verskeie oorde – Potchefstroomse Sakekamer, die department van sosiale ontwikkeling, kerke, die gemeenskapspolisiëringsforum, polisie en die J.B Marks Stadsraad – het ‘n rampverligtingskomitee gestig. Hulle vorm ‘n subkomitee van die J.B Marks se munisipale rampbestuurskomitee en is besig om in samewerking met sosiale ontwikkeling en die stadsraad ‘n lys van hulpbehoewende mense saam te stel. Mense wat by hierdie databasis gevoeg word, kan by die munisipale rampbestuurskantore aanmeld by tel. 018 299 5822.

Die subkomitee het ‘n plaaslike verskaffer van mieliemeel genader om vir slegs R1 per maaltyd kos aan die hulpbehoewende mense te verskaf. Dié meel is reeds gaar en slegs water hoef by die meel gevoeg te word voordat dit geëet word. “Huishoudings spaar dus ook energie om die pap gaar te maak”, sê Moolman.

Volgens hom sal gemeenskapsleiers en kerke die kos op ‘n veilige manier aan hul gemeenskappe versprei. Die J.B Marks munisipaliteit is tans besig om ‘n bedrag vir hongerverligting te finaliseer. ‘n Bykomende R65 000 per dag is nodig om die huishoudings te voed.

Donasies kan gemaak word in die volgende rekening:

Bank: Nedbank

Rekeningnaam: Potch Tlokwe Sakekamer Projekte

Rekeningnommer: 1201 6633 42

Rekeningtipe: Tjek

Takkode: 198 765

Verwysing: “Dis relief” + voorletters en van

* Indien moontlik, stuur bewys van betaling en kontakbesonderhede na info@potch-tlokwe.co.za.

Belastingkortingsertifikaat

Daar is ‘n diensverskaffer geïdentifiseer, “Touching Africa Development Trust”, vir diegene wat graag ‘n seksie 18A belastingkortingsertifikaat vir hulle donasies wil ontvang. Die fondse moet direk in hulle rekening betaal word waarna dit weer direk in die Sakekamer se rekening oorgeplaas sal word. Bankbesonderhede vir die “Touching Africa Development Trust” kan by info@potch-tlokwe.co.za of Jonathan Baron tel. 084 506 3706 bekom word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button