Vrou seksueel aangerand na drankie vermoedelik gedokter was
ʼn Een-en-twintigjarige vrou was Woensdagaand die slagoffer van ʼn seksuele aanranding nadat sy vermoedelik ʼn drankie gedrink het op die Bult wat met ʼn dwelmmiddel gedokter was.
ʼn Een-en-twintigjarige vrou was Woensdagaand die slagoffer van ʼn seksuele aanranding nadat sy vermoedelik ʼn drankie gedrink het op die Bult wat met ʼn dwelmmiddel gedokter was.
Sy het vertel dat sy en haar stiefbroer Woensdagaand 22:00 in Potchefstroom aangekom het en ʼn drankie by ʼn gewilde kuierplek gedrink het. Hulle het daarna besluit om iets by ʼn volgende kuierplek te eet en van die brandewyndrankie, wat op ʼn spesiale aanbod was, te drink. Sy sê haar broer het opgemerk dat die drankie “afgewater” geproe het en dit nie eens klaar gedrink het nie. Hy het gesê hy voel siek en wil in die kar gaan lê.
Sy het hom oorreed om huis toe te ry en gesê sy gaan eerder haar vriendin in Potchefstroom vra om haar te kom haal sodat sy by haar kan oornag. Die slagoffer vertel dat dit na 23:00 was toe sy buitentoe gegaan het om haar vriendin te bel toe sy ook nie lekker gevoel het nie.
Daar was ʼn man wat ná haar uit die kuierplek gekom het en wou haar oorreed om haar af te laai. Sy sê dat sy ʼn hele paar keer vir hom gesê het sy wag vir haar vriendin en dat sy nie wil saamry nie. Hy het haar later oorreed en gesê hy gaan net ʼn baadjie by sy huis oplaai wat naby die Bult is en dat hy haar daarna sal aflaai. Sy het toe in sy wit City Golf geklim. “Ek kon nog onthou toe ek in die kar klim, maar daarna kon ek niks onthou nie. Ek het eers weer later bygekom en kon nie verstaan waarom ons skielik in ʼn beboste area was nie”, vertel sy.
Dit wat sy hierna vertel, mag sommige lesers ontstel. “Die man het sy hand in my broek gesteek en daarna aan my borste gevat. Ek wou uit die motor klim maar hy het my teruggepluk. Hy het my kop toe tussen sy bene gedruk en dis toe dat ek hom slaan.”
Sy vertel verder dat sy daarin geslaag het om uit die motor te ontsnap en het in die bosse gevlug om weg te kruip. “Dit was baie modderig en nat, maar ek was te bang om uit te kom. Die slagoffer het vertel verder dat sy omtrent ʼn uur weggekruip het toe sy later die ligte van ʼn bakkie sien. Sy het uit die bosse gehardloop en die bakkie gestop waarna twee mans tot haar redding gekom het.
Hulle het daarop aangedring om haar polisiestasie toe te neem en was baie ontsteld oor die toestand waarin sy was. Sy het later vertel dat sy die volgende dag baie naar was en eers gedink het sy ly aan skok, maar haar stiefbroer het dieselfde gevoel. Hy het selfs nierpyn gehad. Hulle was steeds baie lomerig.
‘n Woordvoerder van die polisie in die Noordwes, brig. Mokgwabone Sabata, het bevestig dat die slagoffer ʼn saak by die polisie geopen het en dat dit deur die Potchefstroomse eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings ondersoek word. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.




